Hierdie pad is ‘n nagmerrie. Elke dag dink jy vandag se pad is swak en dan verras die volgende dag jou. Maar eerlik waar, vandag sin was vir my senuwee tergend. Buiten vir die swak pad, is daar nie noodbane nie. Trokke wat breek (of omslaan) le net daar in die pad. Sodra jy takke in die pad sien, weet jy daar is ‘n trok of iets stukkend vorentoe. Ons is vandag weer verby baie wrakke langs die pad. Wat die hele situasie erger maak is die busse en die baie trokke op die pad. Die busse jaag werklik roekeloos. Ons is nou al 8 ure op die pad en die laaste ruk is die pad beter. Een ding waarvoor ons die Chinese voor dankbaar kan wees – dat hulle darem Afrika se paaie regmaak.
Pieter kan maar later ‘n update gee oor die pad, of ons kan dalk maar net die foto’s post. Ek sal my bepaal by die mooi goed wat ek gesien het. As die paaie nie so swak was nie, sou vandag ‘n uitsonderlike mooi roete gewees het.
Die gedeelte tussen Iringa en Morogoro was pragtig, eers het ons deur “Boabab Valley”tussen die Udzungwa berge gery. Nog nooit het ek soveel krematart bome gesien nie. Ek het heelwat foto’s van hulle geneem, maar later raak dit soos die jakarandas in Oktober. Ons is later oor die Groot Ruaha rivier oorgesteek, dis ‘n sytak van die Rufiji rivier wat deur die Selous Game Reserve vloei.
Ons was vandag 12 ure op die pad, die laaste 2 ure bumper to bumper in Dar Es Salam. Ons is almal flou van die moeg, veral Pieter. Dankie tog vir GPS met tracks for Africa, want hoe anders ons die ferry sou kry weet ek nie. Gelukkig is ferry nie meer so besig teen 8 uur in die aand nie. Die ferry neem so 5 minute en elke 15 minute is daar ‘n ferry. Mikadi Beach Camp is so 2 km van die ferry af.
No comments:
Post a Comment