Sunday, July 14, 2013

Dag 22, Saterdag 13 Julie 2013 - Roerfontein tot huis

Na ontbyt raak ons opgewonde om huistoe te gaan. Ons groet die Hattinghs en Pretoria hier kom ons. By Broederstroom stop ons by die slaghuis, vir vleis wat ons ken en weet wat heerlik gaan wees, die dobbelspel met vleis is verby - gaan dit taai of lekker wees? Al het ek die blog getik, het ek nogtands tred verloor met die dae en datums en het gedink dis vandag Sondag en toe ek nie die Rapport kon opspoor in die winkel nie, eers besef dis Saterdag.

Ons was so 1uur by die huis, ek het nou al 2 bondels wasgoed gewas, Pieter het al Swakop en Hentiesbaai se sout van die onderstel afgewas en ek was al 'n paar keer om die huis om na my tuin te kyk. Alles lyk goed (dankie Nellie, Johan en Shongela!!!!) - my ertjies blom uitbundig en daar was selfs 'n klein tamatie en suurlemoen oes.

Ek het vir 'n verandering baie goed boekgehou van ons uitgawes. Ek verwag ons het binne ons begroting gebly, maar ek sal binne 'n dag op wat 'n opsomming post van die kampeerplekke waar ons was, ens.

Dag 21 Vrydag, 12 Julie 2013 - Kang tot Roerfontein

Net na sonop is ons oppad. Ons ry vir 'n uur of wat voordat ons vir ontbyt stop, ja, vandag is dit die bacon van Gobabis Spar en eiers. Ons kry 'n gawe piekniekplek tussen 2 kameeldoringbome.
Botswana, maar veral Namibia het die wonderlikste piekniek plekke. In Namibia word dit mooi blou geverf en baie mooi instand gehou. Ons het selfs die bakkies met die werkers gesien ry van piekniekplek tot piekniekplek wat dit skoon maak, die vullisdromme leegmaak en die tafels en stoeltjies WAS!!!!

Nog iets wat opvallend was, was die baie vlakvarke wat ons in die padreserwes in Namibia gesien het, veral vroegoggend of laatmiddag. Hier in Botswana is dit net donkies en bokke, ek dink die vlakvarke is dalk lankal opgeëet...

Na al my moeite om die rooivleis gaar te maak, was daar nie enige "vet fences" tussen Buitepos en Skilpadsnek nie. Teen een uur is ons deur die grensposte. Ons kan huistoe ry, maar wil die vakansie nog 'n dag rek, verder kan ons Radio Sonder Grense weer goed opvang en dit klink of Cosatu een of ander optog by Swartruggens se tolhek het. Dis regtig nie hoe ons, ons vakansie eindig nie.

'n Oproep na vriende van ons, Danie en Marinda Hattingh wat naby Koster boer, verskaf kampplek op hulle plaas vir vanaand. Ons het hulle lanklaas gesien en sien uit na die kuier. Ons braai en kuier tot laat.


Dit is so asof ons vakansie 'n volle sirkel maak, van ons eerste nagte was op Motopi in Botswana by Thys en Dorette Cronje (nuwe vriende) waar die kinders so lekker gespeel het met al die honde en ons sluit af ons laaste aand, by Danie en Marinda (ou vriende) waar die kinders so lekker speel met al die honde, dat hulle sommer 2 nagte wil bly.


Dag 20 Donderdag, 11 Julie 2013, Gobabis tot Kang

Gobabis was die eerste dorp waar ek kerktorings gesien het voor ek 'n watertoring gesien het. In Namibia sien jy altyd die watertoring eerste.
Ons het by Goba lodge gekamp, daar was baie meer fasiliteite as wat ons nodig gehad het, restaurant, konferensie sentrum, kapelletjie, tennisbane en 'n swembad. Die kinders het die kampie met die volstruise, blesbokke en 3 gemsbokke geniet.
Met ons vetrek vanoggend het ek gou 'n paar fotos geneem, toe Pieter vir my beduie daar is iets in die boom. Ja, waarlik - daar sit 'n klein uiltjie. In die boek opgesoek - dit was 'n witkoluiltjie.
Ons staanpplek met lieflike gras by Goba Lodge

Pieter maak die camper weer vol diesel en ek koop die laaste kos vir die vakansie. Om een of ander rede was bacon maar skaars in die winkels, maar hier in Gobabis Spar  gooi ek 'n pakkie in die mandjie - hopelik verloor ek dit nie weer by een of ander "ver fence" nie. Dis ons eerste bacon vir die vakansie.

Die Buitepos grenskruising lewer geen probleme op nie en teen laat middag arriveer ons by Kang. Daar gaan nie veel aan op Kang die, dit lyk soos 'n Ultra City sonder 'n Wimpy - daar is wel 'n restaurant. Pieter maak die camper weer vol en ek probeer kampeerplek kry. Teen Pula 80 is dit bargain. Maar toe Pieter wil betaal is hulle kaartmasjien off-line. Ons begin geld raap en skraap - die dieselrekening is Pula 1350.35 (of R1687.94) Ons gooi al ons rande, namibiese dollars en pulas bymekaar maar kort teen die einde nog Pula 160. Ons bied US dollars aan vir die verskil, maar hulle is bereid dat ons solank kamp en waneer hulle weer online is ons te kom roep om die  kaart te swipe.

Ewe skielik tref dit my dat ek nog 'n koevertjie met R1000 van Women with Curves se geld in my gewone handsak het, ek en Pieter slaag albei 'n groot sug van verligting. Waneer ons reis gebruik ek my lap Malawi handsak in plaas van my gewone handsak. Die Malawi handsak het sy onstaan gehad met ons vorige vakansie in 2010 - toe die geld note te veel was vir my beursie, dan kom ek dit sommer so los in die handsak by ATM gooi, verder is die skouerband baie lank en ek dra dit skuins oor my skouer - sodat my hande los is en ek 'n kind met elke hand kan vashou en hulle nie verloor in een of ander besige mark of straat nie.

Wednesday, July 10, 2013

Dag 19 Woensdag, Swakop tot Gobabis

Ons is donker weg uit Swakop en het baie goed gevorder. Ons was die heeldag op die pad en Pieter was nogal moeg vanaand. Op Okahandja het ons gestop vir biltong, skaaptjops en koeksisters.

Ek het gelees, maar hoofsaaklik die blog getik. Dit is nogal 'n uitdaging om so in die ry op die notebook te tik. Ek was teen middagete op datum met die blog, maar het moed opgegee om die foto's uit te sorteer en te re-size, dus doen ek dit vanaand, voor ek die blog kan post.  Dis 'n verligting om te weet alles is weer op datum.

Ons het die skaaptjops gebraai, ek het weer oliebolle gemaak vir padkos en weer Pieter en Emke se favourite pampoen gereg. Ek het nie eers een foto vandag geneem nie, sal more kyk of ek iets sien wat my aandag trek

Dag 18 Dinsdag, 9 Julie 2013 – Swakopmund



Vandag gaan ons op ‘n halfdag dolfyn en rob toer saam met Laramon Tours. Vir die eerste keer kan ek die appeal van ‘n boot sien. 
Ons vaartuig is motorised catamaran. Alles is goed georganiseer. Ons het nie ver gevaar nie, toe daar ‘n rob op die boot spring, baie duidelik nie die eerstre keer nie, Pieter ons gids se van die robbe is al baie mak en ons kan aan van hulle vat. Ons is so 22 mense aan boord.

Die meeue draai om die boot  en van tyd tot tyd trekduikers en pelikane ook. Later kom land 2 van die pelikane op die boot langs Emke, sy is gefassineerd.

 Emke en Engela staan heel voor op die boot en tel die jellievisse wat verby kom. Die jellievisse is so oranjebruin kleur.
Ons vaar naby ‘n robkolonie verby, daar is duisende van hulle, hulle is baie nuuskierig en spring uit die water soos dolfyne. En so van Dolfyne gepraat, ongelukkig kry ons hulle nie te sien nie.

Ons bootvaart sluit verversings in en sommer vroeg-vroeg is ons OBS aangebied en aangesien dit so koud is het ons nie gehuiwer nie.  Nou is dit tyd vir vonkelwyn en oesters. Jackson is besig om die oesters oop en los te maak en op die skinkbord tussen suurlemoene te pak. Engela hou hom fyn dop, sy is van plan om die oesters ook te probeer.

Buiten die oester is daar ook platters vol vis, frikkadelle, hoender en toebroodjies. Pieter was die eertse om die oesters te probeer, ek volgende en toe Engela. Engela het volstaan by een, maar ek en Pieter het op die ou end elkeen 3 geeet. Nou hoe proe dit?  Jy proe basies die seewater en die suurlemoensap, die oester self sluk jy net. Lekker genoeg, maar ek twyfel of ek ooit dit in ‘n restaurant sal bestel.

Gou-gou is die 3 ure verby en ons is weer op die kaai. In die vlakwater loop die groot flaminke. Vandag wil ons vis koop om saam te neem huistoe, die kinders na die Kristal Gallerie toe neem en die poeding by The Tug gaan eet.
Die poeding was ‘n wonderlike manier om ons vakansie af te sluit, ek, Pieter en Emke het die warm Cherries Jubilee met roomys geeet en Engela  het vanilla roomys met warm sjokoladesous gekies, en het sy dit geniet – tot haar wange was vol sjokolade sous.
More begin ons terugry huistoe. Ons beplan om iewers tussen Windhoek en Gobabis oor te slaap.
Emke en Engela vir oulaas op die strand

Dag 17, Maandag 8 Julie 2013 – Swakopmund



Ons moet 8uur reg wees vir ons Living Desert  Toer, Douglas kom ons oplaai met hulle voertuig. Nooit weer sal ons na die woestyn kyk en dink dis leweloos nie.

 Ek weet ongelukkig nog nie wat al die diere in Afrikaans is nie, dus gebruik ek maar voorlopig die engelse name. Na ‘n praatjie oor die duine, hulle vorms, die plantegroei en die effek van die mis. Is dit tyd om diere te soek. Die eerste een wat Douglas vind is die Sand diving Lizard, ‘n oulike dingetjie met skubbe op sy neus.  Ons sien ‘n swaelstertbyvreter op in Tamarisk tak in die Swakoprivierstelsel. Ek was verras om te sien die voel kom algemeen voor in die kalaharisandstreke.
Volgende sien ons die Transparent Namib Dune Gecko. Hy het groot oe en pragtige kleure. Ons kry mooi fotos geneem. Later sien ons ook  Desert Chameleons, Douglas neem larwes saam om hulle te voer. Hy gee die kinders ook kans om die larwes vir die verkleurmannetjie te gee.  Gelukkig is die Dancing White lady Spider ook by die huis en ons kan sien hoe lyk die nes van die spinnekop. Hulle voer hulle tonnels onder die grond uit met sy sodat die sand nie aanmekaar toeval nie. Die spinnekop is nogal agressief en magtig giftig – jy sal nie doodgaan nie, maar jy sal weet jy is gebyt.  Die girls het ‘n probleem met die naam, hoe kan ‘n mannetjie spinnekop ook ‘n  Dancing White lady wees????
Laaste sien ons die Sidewinder snake, dis ‘n tipe adder, beweeg redelik stadig en maak gebruik van lokvalle om sy prooi te vang. Al die diere behalwe die vekrleurmannetjies was onder die sand gewees en Douglas moes soek vir hulle spore om hulle te kry.
Hierdie was nie ‘n goedkoop uitstappie nie (N$600 pp en kinders gelukkig halfprys), maar die moeite werd. Dis ‘n ervaring wat jy nie op jou eie sou he nie en om in die duine te ry was spesiaal.  Teen die einde van die toer kon die kinders vir ou laas vir ‘n Woestyn Spekvreter voeltjie wiurmpies gee. Jip, Douglas het dit ook saam gebring.

Terwyl ek die blog op datum bring en Engela rus, het Pieter en Emke die klere wassery toe geneem. Gelukkig moet jy die goed ingee en later afhaal. N$140 – ‘n bargain ons moet die klere 6nm gaan haal. Nadat ons inkopies gedoen het, speel die kinders weer op die starnd. Ons bespreek ‘n tafel by  die Tug restaurant – hoogaangeskryf in ons guide boek.
Die ete was heerlik, Pieter het kabeljou geeet, ek het seekos sosaties wat bestaan uit kingklip, mossels, calamari en prawns, die girls hake en calamari. Die nagereg spyskaart het ook belowend gelyk, maar ons was net te vol en het besluit om more middag die nagereg te kom eet.
More oggend gaan ons op die see uitstappie.

Dag 16, Sondag 7 Julie 2013, Spitzkoppe na Swakop vis Hentiesbaai



Ons neem weer fotos by Spitzkoppe, veral van die boogrots en ons het pret met die skaduwees en maak ons eie Stronkhorst rock art. 
Stronkhorst rock art
Die enigste skerpioen wat ons in die hele tyd sien is die yster een by die ingang. Pieter het ‘n UV LED vir die een kopliggie ingesit en ons het elke aand, orals gekyk, maar nerens ‘n skerpioen gesien nie. Moontlik is hulle nie aktief in die winter nie.

Ons stop by ‘n paar stalletjies om krsitalle te koop, voordat ons die D1918 na Hentiesbaai neem, dis ‘n grondpad en  121km lank. Gelukkig in baie goeie toestand. Ons ry verby klein Spitzkoppe ook, die omgewing verander en later is dit net gruis vlaktes (gravel plains), ons sien 3 springbokke en dis al. Ons ry deur die Dorob National Park, ‘n baie nuwe park wat ten doel het om die woestyn habitat te beskerm teen die vernietiging deur voertuie wat roekeloos oor die duine jaag.
By Henties baai is dit ook middagete en vis is op ons spyskaart. By Fishy Corner het hulle vars Steenbras en Kabeljou. Omdat ek nie weet hoe enige van die twee proe nie, bestel ek toe 2 van elk. Dit was die lekkerste vis  wat ek nog ooit geeet het. Ons eet in die camper terwyl ons uit kyk op die Atlantiese oseaan. Die kinders kan nie wag om by die see te kom nie, ons waarsku van vrek koue water, maar hulle is baie opgewonde die bult af stand toe.
Ek het nogal van Hentiesbaai gehou, jy kan duidelik sien wat is die ou ou vissershuisies en wat is die nuwer plekke en dan is daar ook mansions. Orals langs die kus kan jy die vissersmanne (en dalk -vroue) sien visvang. Engela het gevra as hulle ‘n bietjie groter is of ons vir hulle visstokke kan koop, want hulle wil ook visvang.
Op pad Swakop toe sien ons Woltzkasbaken,  dis ‘n klein nedersetting so 30km voor Swakop,  elke baie helder kleurige huis het sy eie water tenk op pale wat dieselfde kleur as die huis geverf is, laat my nogakl aan Muizenberg se huisies dink.
Op Swakopmund kry ons kampeerplek by Tiger Reef Camp site, feitlik op die strand, langs die lagoon, naby die pier – perfek!!!!

Ek bespreek ons uitstappie vir more en ek en Pieter eet die res van middagete se vis, Engela oortuig haar pa om vir haar 2 min noodles met gerookte mossels te maak en Emke eet tamatiesop.

Dag 15 Saterdag, 6 Julie 2013, Spitzkoppe



As ek geweet het die skaaptjops gaan so taai wees, het ek dit by Etosha se hek vir die beampte gegee. Pieter dink die skaaptjops is dalk boktjops. Ek het dit gemarineer vir ‘n uur en nogsteeds was dit taai, die ander vleis wat ons ook in Tsumeb gekoop het, die T-bone en varktjops was heerlik, maar albei kere se skaaptjops was baie taai.
Ons was so net na 9 uur RSA-tyd, by Etosha uit.  By Outjo Backerei eet ons ‘n plaasontbyt, koop pasteie en varkore (die gebak en nie die vleis!!!!), by die 3de bank kry ek eers geld getrek. Standard bank s’n is klaar, almal staan toe by FNB in die ry, gelukkig is Windhoek bank se ry kort en daar kom ek toe reg. Visa rule!!! Die OK Foods is heel skaflik en ek vul ons voorade weer aan, veral butternut en marsmallows en sodawater vir die whisky. Pieter het op ‘n staduim ‘n bottel Johnnie Walker Black Label gekry en die geniet ons nou op die vakansie.
Ons sien weer heelwat vlakvarke op die skouer van die pad en selfs 3 bergsebras teen die draad van ‘n wildsplaas.  Die bergsebras het ons ongelukkig nie in Etosha gesien nie, In die winter is hulle nie in die area wat oop is vir toeriste nie.
Omaruru is nes Outjo is my ‘n pragtige dorpie, as ons weer Namibia toe kom, sal ek graag langer by albei wil vertoef. Wat ons al by Tsumeb gesien het, en hier ook. Jy sien wildsplase of beesplase, dan is jy in die dorp met huise en ‘n hoofstraat. Dis nie eers bestaansboere, dan informele nedersettings en dan plotte nie en dan die dorp nie. Nee, dis plaas en dan dorp. Miskien wil almal nie hier boer of ‘n stukkie grond he nie,  miskien met die lae bevolkingsdigtheid het almal dalk ‘n stukkie grond…
Na die groot ontbyt stop ons nie eers vir middagete nie en teen 4 uur neem ons die 30km grondpad  vanaf die B2 na Spitzkoppe waar ons vanaand slaap. Die pad is nie slegs nie, plek-plek sinkplaat en hobbels, maar oor die algemeen goed. Ons betaal en ry ‘n rukkie rond om ons staanplek te kry tussen die rotse. Ons gaan kyk na die boogrots en neem ‘n klompie foto’s voordat ons weer braai, ja die taai tjops en die heerlike butternut.
Ek en Pieter gan slaap vanaand met ons gordyn en venster oop – die sterre is net so mooi en helder en lyk amper of jy aan hulle kan vat.