Wednesday, July 10, 2013

Dag 13, Donderdag 4 Julie 2013, Halali



Ons slaap elke nag in Etosha in ‘n ander kamp, dus is ons weer oppad na ‘n nuwe kamp – Halali. Elke kamp in Etosha het 2 watergate,  ‘n verligte een waar jy snags kan diere kyk en ‘n ander een waar die toeriste kan swem – die swembad. Ek dink in die somer is die swembaddens ‘n wenners, maar selfs nou in die winter is daar feitlik altyd iemand in die swembaddens.


Ons modus operandi is nogsteeds om ‘n watergat te kry en dan vir ure daar te sit. Vandag is dit Kalkheuwel. Ons maak ontbyt en kyk diere. Dis ‘n bedrywige plek, die sebras, rooibokke en kameelperde is volop en so ook die voels. Swerm na  swerm  kom drink. Ek sien ‘n swartwangsysie en nie lank daarna nie ‘n swartwangkatlagter. Ons hoop om al 5 soorte katlagters te sien. By die huis is die pylvlekkatlagter, by Dube, naby Brits het ons die witkatlagter gesien, die witkruiskatlagter was ‘n nuwe voël by Ngepi en nou die swartwangkatlagter.  Dan soek ons nog die kaalwangkatlagter wat ook in Namibia voorkom.
Vroeg vanoggend het ons ‘n swartrenoster gesien en later weer ‘n swartrugjakkals. Die jakkalse is baie spesiaal vir ons – dis iets wat ons feitlik nooit in die Kruger wildtuin sien nie.

Halali is ‘n mooi kamp wat my nogal aan Shingwedzi laat dink, waarskynlik die Mopani bome in die kamp. By die watergat langs die kamp sien ons ‘n trop olifante wat drink met die ou kleinste olifantjie saam met hulle. Daar is ook ‘n tienderjarige olifant bulletjie wat besluit om die swart renoster  wat ook drink ,storm te loop, die renoster gee net ‘n paar tree in sy rigting toe die olifant in sy spore omvlieg en laat spaander.
Na ons gebraai het, is ons weer watergat toe, daar was nog 2 swartrenosters wat gedrink het, olifante en ‘n jakkals.

No comments:

Post a Comment