Wednesday, July 10, 2013

Dag 14 Vrydag, 5 Julie 2013 – Okaukuejo



By Rietfontein watergat stop ons by die graf van ‘n Dorslandtrekker, die vrou van trekleier Alberts, Johanna. Ek voel nogal geroer, van my voorsate was Dorslandtrekkers en so ook van Pieter s’n. Ek weet dit was ‘n harde trek, maar as ek na die omgewing hier kyk en ook in Botswana, dink ek dit was ongenadiglik, die mense moes bittereinders gewees het, of dalk kom jy op ‘n punt wat dit te ver is om om te draai, te bitter en te swaar die verlede en dan al wat oorbly is die hoop dat dit beter vorentoe kan gaan, want slegter kan dit nie.
Ons skuif aan na Salvadora watergat, vernoem na die Salvadora persica boom wat daar groei, dis ‘n lieflike watergat met ‘n uitsig oor die Pan. Ek neem ‘n paar foto’s. Noudat ek so 2 stoppe under expose gaan dit beter met die fotonemery. ‘n Klein swermpie kelkiewyne kom drink.  Wildsgewys is dit stillerig, maar ons is eintlik hier vir ons heerlike jaffels.  Jaffels met Camembertkaas en vyekonfyt. Dis ongelooflik lekker, die soet en sout saam.

Hierdie is ons laaste dag in Etosha, moreoggend ry ons reguit uit want dis ‘n langskof tot op Spitzkoppe. Okaukuejo is my gunsteling kamp in Etosha, ons klim die toring vir die uitsig en verken die kamp. Nadat ons ‘n sak hout gekoop het is ons weer terug kamp toe vir nog ‘n heerlike braai. T-bone met gebraaide kerriekool met feta en dan ons nuwe gunsteling dis,  butternut met marsmallows en botter. Metode: Kook die butternut tot sag, skep in vuurvaste bak, versprei so 6 marsmallows in die bak en sprinkel ‘n paar klontjies botter daaroor, maak toe met foelie en sit op die kole. Teen die tyd wat die vleis gaar is, het die marsmallows en botter gesmelt en is nou die heerlikste sous. Probeer dit, jy sal verbaas wees hoe lekker dit is. Dit is nou al die 2de keer  in 2 weke op die spyskaart.
By die watergat drink daar ‘n olifant, ‘n renoster loop in die verte, ‘n paar kameelperde en sebras kom drink, ‘n jakkals ook. Agter ons op ‘n tak sit ‘n Witwanguil – ook ‘n nuwe voel.  Tot dusver het ons al meer as 20 nuwe voels gesien en dan le Walvisbaai en Swakopmund nog voor met die seevoels.

No comments:

Post a Comment