As ek geweet het die skaaptjops gaan so taai wees, het ek
dit by Etosha se hek vir die beampte gegee. Pieter dink die skaaptjops is dalk
boktjops. Ek het dit gemarineer vir ‘n uur en nogsteeds was dit taai, die ander
vleis wat ons ook in Tsumeb gekoop het, die T-bone en varktjops was heerlik,
maar albei kere se skaaptjops was baie taai.
Ons was so net na 9 uur RSA-tyd, by Etosha uit. By Outjo Backerei eet ons ‘n plaasontbyt,
koop pasteie en varkore (die gebak en nie die vleis!!!!), by die 3de bank kry
ek eers geld getrek. Standard bank s’n is klaar, almal staan toe by FNB in die
ry, gelukkig is Windhoek bank se ry kort en daar kom ek toe reg. Visa rule!!!
Die OK Foods is heel skaflik en ek vul ons voorade weer aan, veral butternut en
marsmallows en sodawater vir die whisky. Pieter het op ‘n staduim ‘n bottel
Johnnie Walker Black Label gekry en die geniet ons nou op die vakansie.
Ons sien weer heelwat vlakvarke op die skouer van die pad en
selfs 3 bergsebras teen die draad van ‘n wildsplaas. Die bergsebras het ons ongelukkig nie in
Etosha gesien nie, In die winter is hulle nie in die area wat oop is vir
toeriste nie.
Omaruru is nes Outjo is my ‘n pragtige dorpie, as ons weer
Namibia toe kom, sal ek graag langer by albei wil vertoef. Wat ons al by Tsumeb
gesien het, en hier ook. Jy sien wildsplase of beesplase, dan is jy in die dorp
met huise en ‘n hoofstraat. Dis nie eers bestaansboere, dan informele
nedersettings en dan plotte nie en dan die dorp nie. Nee, dis plaas en dan
dorp. Miskien wil almal nie hier boer of ‘n stukkie grond he nie, miskien met die lae bevolkingsdigtheid het
almal dalk ‘n stukkie grond…
Na die groot ontbyt stop ons nie eers vir middagete nie en
teen 4 uur neem ons die 30km grondpad
vanaf die B2 na Spitzkoppe waar ons vanaand slaap. Die pad is nie slegs
nie, plek-plek sinkplaat en hobbels, maar oor die algemeen goed. Ons betaal en
ry ‘n rukkie rond om ons staanplek te kry tussen die rotse. Ons gaan kyk na die
boogrots en neem ‘n klompie foto’s voordat ons weer braai, ja die taai tjops en
die heerlike butternut.
Ek en Pieter gan slaap vanaand met ons gordyn en venster oop
– die sterre is net so mooi en helder en lyk amper of jy aan hulle kan vat.
No comments:
Post a Comment