Monday, May 2, 2016

Bettiesbaai, 21 - 24 Maart 2016

Ons vlieg met Mango Kaap toe. Die kinders is baie opgewonde. Engela sorg vir 'n ligter oomblik toe sy by die venster uitkyk en sê dat die karretjies darem baie klein, amper so klein soos kopluise. Ai, ons kinders hou ons nederig.

Ons het 'n kar gehuur vir die paar dae en kry 'n Renault Sandero. Alles pas net-net in . Vanaand slaap ons by my Ma en Oom Mike op Betties Baai.

Ons het rondgery en soos gewoonlik die pikkewyne by Stony Point besoek.


Waneer die wind gaan lê het, het ons heerlik rondgestap tussen die fynbos en op die strand.


 Ons het ook met die kuspad van Maccasar af gery via, Muizenberg en dis ook waar die padwerke begin het, sukkel-sukkel is ons verby Simonstad, Vishoek en al die ander mooi plekkies tot by Houtbaai. Dit was tyd vir middagete en soos gewoonlik is Mariners Wharf ons keuse. Ek bestel vir ons die Family Feast vir R250 wat 2 stukke stokvis, 1 stuk snoek, vol porsie kalamarie, groot skyfies, 4 broodrolletjies en 'n 2l coke insluit. Dit was heerlik, ons was almal knippel dik geëet, wat oorbly het ons vir die straatkinders gegee.
Na ete stap ons deur die hawe en die kinders oe en ah oor al die bote, robbe en seemeeue. Ek en Pieter lag net, want hulle weet nog nie van die verrassing nie. Ons het heerlik my Ma hulle gekuier, die kinders geniet Ouma Emmie vreeslik baie en wens altyd ons kon mekaar meer sien. Ek ook.



Sunday, May 1, 2016

St Helena Eiland, Suid-Atlantiese Oseaan en die RMS St Helena 2016

Die eerste keer wat ek van St Helena gehoor het was iewers in hoërskool in die geskiedenisklas. En dit het gehandel oor Napoleon wat daar 'n banneling was en ook daar gesterf het. Later het ek ook gehoor van die boere wat krygsgevangenes daar was.

Meer onlangs was dit die advertensies van  Andrew Weir Shipping  in die Weg en Getaway tydskrifte wat ons gesien het. Dit het nie net vir ons oor die eiland gegaan nie, maar ook oor die RMS St Helena, een van die laaste posbote nog in diens. Toe toe ons verlede jaar (2015) hoor die lughawe word nou gebou en dat die boot van diens ontrek word, het dit vuur onder ons gemaak.




In Mei 2015 begin ons met die navorsing en besprekings. Ons bespreek 'n 4 bed kajuit met 'n klein badkamertjie, koste ongeveer R60 000. Die kinders is nog 0/12 en ry halfprys.