Sunday, October 17, 2010

Dag 52, Kwa Nokeng tot huis





Na ontbyt is ons so net na 8:00 by Kwa Nokeng weg. By die vulstasie volgemaak met Botswana se goedkoop diesel. Hierdie was waarskynlik die vinnigste grensposte, 30 minute, 2 grensposte en 1 voertuiginspeksie. Met al die grensposte is dit die eerste keer wat ons voertuig ge-inspekteer is.
Ons almal is al lankal lus vir ‘n lekker Wimpy burger en die kry ons by Kranskop se Engen Ultra City. Hier waar ek nou sit en tik, nader ons al die Stromvoel afrit en dan is dit minute voor ons tuis is, OK miskien ‘n uur, want ons wil gou kos gaan kry by Uitkyk en ons twyfel of enige van ons karre tuis nog ry. Vanaand wil ons weer braai, … dit is afterall Saterdag.

Dag 51 Bulawayo na Kwa Nokeng, Botswana






Vanoggend nadat ons opgestaan het, het ek voorgestel dat ons begin terugry huistoe. Ek neem vir ou laas foto’s van die bougainvillea en jakarandas by die karavaanpark, en die koperplaat van toe die karavaanpark in 1964 ge-open is, en die kraaie wat water drink by die krane en toe is ons op pad Plumtree toe. Ek het nie veel gedink oor die naam Plumtree nie, maar toe die 1ste dorpie Figtree is en die volgende een Marula, was al die “boom”dorpies vir my baie oulik.
Ons het weereens baie vinnige grensposte gehad, ek weet nie wat al die lande veronderstel is om met hulle gedeelte van die Carnet te doen nie, die doeane beampte by Zimbabawe weet ook seker nie, want hy sy gedeelte in die asblik gegooi. Die Botswana grenspos was ook vinnig en verniet, met die inkom slag so 50 dae gelede het ek retoer gekoop en die ander goed is geldig tot 31 Des 2010.
Ons besluit om maar te ry en te kyk hoe ons vorder. Net buitekant Francistown stop ons vir middag-ete, 17:45 stop ons by Kwa Nokeng by Martin’s Drift vir die nag. Dis baie mooi by Kwa Nokeng op die wal van die Limpopo rivier, en die kampeerplek staan vol van die GP nommerplate.

Dag 50 Hwange na Bulawayo, Munisipale Karavaanpark






Ons is vanoggend 7 uur al by Sinematella se hek uit en het verrassend baie wild gesien. Sommer gou het daar ‘n kameelperd en 4 koedoes in die pad gestaan. Seker oppad om water te gaan drink. Later het ons nog 4 keer koedoes gesien en vlakvarke, dassies, rooibokke, duiker en vir oulaas weer olifante.
Net buite Hwange dorpie het ons die oorblyfsels van die “strip roads” gesien. Lank gelede toe geld maar skaars was (amper soos nou) het hulle het 2 spore teer gegooi, as-wydte van mekaar. Sodra daar dan ‘n voertuig in die teen oorgestelde rigting aangekom het, het beide bietjie links van die pad afgegaan en die regter wiel op die teer gehou. Sodra hulle verby mekaar is, het albei weer beide wiele op die teer gehad en kon verder ry.
Langs die pad word allerhande goed verkoop, die eerste stalletjies het kremartartsade verkoop. Die sade het glo meer Vit C as lemoene, meer kalsium as melk en heelwat medisinale gebruike. Daar was ook ‘n klompie plekke wat kleipotte verkoop het, ons het besluit om die hoender wat te koop was te los, maar het 2 groot bosse wortels vir USD1 gekoop.
Ons het besluit om deur te ry Bulawayo toe. Ons het goed gery en was vroeg middag by die Munisipale Karavaanpark in die stad. Weereens soos by Hwange probeer die mense hulle bes met wat hulle het. Jonas, die City of Bulawayo Metropolitan Police, met sy mooi ligblou uniform het ons ook kom besoek en later vir Pieter gaan wys waar die ligskakelaars van die ablusies is. Die kinders het vir Jonas prentjies geteken. Die ablusies was baie mooi skoon, al was dit ietwat vervalle. In die laundry was ‘n paar diep wasbakke en ek en Pieter het maar weer die takie van wasgoed was aangepak.
Soos Vic Falls het die Munisipale oord kragpunte gehad en ons het so lekker geslaap na ons vorige na van hitte in Hwange.

Dag 49, Sinametella Camp, Hwange National park, Zimbabwe





Dit was ‘n lieflike pad uit vic Falls uit, met groot bome langs die pad , lyk amper of dit aangeplant is. Hwange is omtrent 100km van Vic Falls af, ons is so net na 11 uur op Hwange die dorpie. Ons sien die eerste olifante net voor ons oor die treinspoor ry, naby die ingang.
Dis omtrent nog ‘n uur ser ry voor ons by Sinametella kamp aankom. Hulle het kampeerplek vir ons, MAAR ons sal nie met die camper op hulle paaie mag ry nie – dis te groot. Nou hoekom hulle nie so gese het by die hek nie, wonder ons nou nog. Ongelukkig bied hulle nie wildsritte aan nie. Main Camp bied wildsritte aan, maar ons sal more weer daaroor dink.
Ons is die enigste gaste vanaand en kies ‘n lekker plekkie na aan die kant van die kampeerplek. Sinamatella is op ‘n koppie gebou met ‘n lieflike uitsig oor die vlakte. Ons sien sommer dadelik ‘n yslike trop buffels op pad om water te drink, maklik 200 van hulle. Later met die verkyker sien ons rooibokke, sebras, koedoes, vlakvarke en olifante.
Die dame by ontvangs se die uitsig van die restaurant se stoep af is ook baie mooi. Ons stap laatmiddag met die kinders daarheen. Dit tragies om te sien hoe sulke eens wonderlike fasiliteite agteruit gaan en verwaarloos raak. Die personeel probeer hulle bes met wat hulle het. Die restaurant is glo al sedert 2004 toe, die tafels en stoele staan binne opgestapel. Die uitsig is egter pragtig. Iets soos Olifantskamp, met minder water. Oral in die kamp le olifantmis. In die nag kom die olifante, ratels, hyena en soms ook leeus in loer.
Die personeel bring vir ons ‘n kruiwa vol brandhout en gou-gou is ons vuurtjie aan die gang. Die son was skaars onder toe die leeu begin brul, klink vir my sommer na net hier onder ons. Pieter wou nog se ons kan maar binne eet, toe is alles al lankal binne – hier is nie meer drade in sig nie, alles is oop. Vir ‘n lang tyd het hy so elke 15 minute van hom laat hoor. Dit was omtrent ‘n stryd om Pieter binne te kry en die girls binne te hou. Hulle wou net so graag kyk hoe lyk die leeu. Ek kan myself net die krisus voortstel as ‘n leeu of hyena Pieter aanval en hier sit ons in die bosse, die enigste mense by die kamp, nou wat dan. Dis goed ons het ‘n satelietfoon, maar wie de hel bel jy dan?
Ek het dit nie voorheen gese nie, maar hier is ook nie kragpunte nie, maw ook nie aircon nie. Die week se hittegolf is nogsteeds aan en dit was vanoggend 10:15 al 35 grade, dis seker iewers in die 40’s nou. Ons het vir ‘n rukkie in die middag die generator laat loop, maar dit voel nogal verkeerd om ‘n geraas in ‘n wildtuin te maak, al is ons die enigste gaste. Ons het maar op ons tande gebyt en die hitte in die nag getrotseer. Die water in die camper se tenks was so warm dat ons ‘n baie aangename louwarm stort gehad het net met die koue kraan.

Dag 48, Victoria Falls Restcamp and Lodge, Zimbabwe





Die pad vanaf Moorings na Livingstone is ‘n pragtige nuwe pad. Oral is daar geel afstandsmerkers, soos wat ons in SA ook gehad het. Dis weer warm, 10:30 was dit 33 grade, 11:30 36 grade en 13:30 toe ons die grensposte moet aandurf 40 grade. Die generator en aircon loop al lankal.
Die grensposte het albei eintlik vinnig verloop. Ons het ‘n oom van die vrystaat ontmoet wat sy planne na Zim verander het, toe hy hoor van al die belastings wat jy moet betaal, sou hom glo R1000 kos. Hy het net daar omgedraai en terug gery Zambia toe. Ek is nogsteeds dankbaar dat ons die Carnet en die COMESA 3rde party versekering uitgeneem het.Verder moes ons USD 30 vir Carbon Tax betaal en nog USD 60 vir tolgeld. Visums word by immigrasie kosteloos aan Suid-Afrikaners uitgereik. Pieter het gedink 5 dae sal voldoende wees, en ons kry toe ook net 5 dae, wat seker voldoende sal wees indien ons nerens enige probleme of vertragings het nie.
Ek wil graag ‘n foto van ons trok neem terwyl dit oor die Vic Falls brug ry. Jy kan nie op die brug stop om foto’s te neem nie. Toe ek uitklim om vooruit te loop, is daar ook dadelik ‘n verkoper van armbande by. Hy is die heel pad saam terwyl hy probeer om dit aan my te verkoop en ek probeer net die foto te neem en Pieter probeer so stadig moontlik ry, maar almal jaag hom aan en dit is 40 grade buite.
Ons kamp by Victoria Falls Restcamp and Lodge, koste is USD 10 per volw, Emke USD7 Engela gratis en voertuig USD8 = totaal USD 35. Ek dink dit was oorspronklik die munisipale kampterein lank gelede, maar het onlangs’n facelift gehad en alles is pragtig, netjies en skoon. Daar is ‘n lieflike swembad en dis gerieflik in die dorp geleë. Die kragpunt lewer wonder bo wonder goeie krag en so gou soos nou is die aircon weer aan.
Ek stap dorp toe om inligting by die parkeraad te kry oor Hwange en Pieter en die kinders gaan swem solank. Volgens die parkeraad se dame hoef ons nie te bespreek nie en kan net opdaag. Ons besluit om by Sinamatella te kamp.

Monday, October 11, 2010

Dag 47, Moorings Campsite, Zambia





Sjoe vandag is dit weer WARM. Ons het baie vroeg reeds die housekeeping afgehandel. Die stort en porta-potty is alles gewas, die matte uitstof en selfs gewas. Pieter het omtrent die sonskyn vandag gebruik om die kinders se kampstoele en al die wasgoed te was. Vir ‘n slag is alles skoon.
Ek het vandag al heerlik met Adele in Melbourne geskype en met Lynette by die kantoor ook. Nou gaan ek vinnig die blog update voordat ek net onder die boom gaan lê.
So 10 uur vanoggend het ek die Malambo Woman’s Group gaan besoek. Dis ‘n werkskeppingprojek hier op die plaas waar die vrouens naalwerkprodukte maak wat hier en ook in Lusaka verkoop word. Daar was allerhande goed soos wasgoedpennetjie-sakke (het een gekoop), sakke, duvets, kussings, tea cosies, koffie plunger cosy (hou die koffie warm – het een gekoop, na al die koffie wat ons in Tanzania gekoop het, gaan ons definitief een nodig hê), ens.
Die kinders lê onder die boom onder hulle nat Kikoy’s (sulke sarongs van Tanzania), dis net te warm om in die camper te slaap en ons is nog op Zambia se deelkrag. Die bietjie word gedeel, maw dis nie sterk genoeg vir ons aircon nie. Gelukkig soos kraggebruik in die aand afneem het ons so teen 9 se kant wel die gebruik van die aircon. Ongelukkig is hier nie ‘n swembad nie, Pieter sal dalk later ‘n groot skottel vir die kinders vol water maak.
Ons beplanning is verder soos volg: Môre ry ons tot op Livingstone en hoop om sommer deur te ry Vic Falls toe in Zimbabwe. Daar wil ons ‘n nag oorslaap en dan afry Hwange toe vir 2 nagte. Nog ‘n nag of wat in Bulawayo voordat ons by plumtree uitgaan en in Botswana aankom. Daarna sal dit seker nog een nag in Botswana wees voordat ons weer in RSA aankom.

Dag 46 Bridge Camp, Lusaka, Moorings Campsite





Ons vertrek na koffie en beskuit met die gedagte om brunch te eet in Lusaka. Net voor 11 is ons by Arcades sentrum in Lusaka. Ek stop by Ocean Basket om take-aways te bestel, koop uiteindelik ‘n boomboek. Ongelukkig is dit weer net suidelike afrika, maar aan die anderkant twyfel ek of dit die moeite werd is om ‘n Afrika boomboek te hê, waneer gaan ek weer noord van die Zambezi kom?
Ek stop vinnig by ‘n apteek, loer by die Zambeef winkel in en besluit om eers die kos by Spar te koop en op pad uit die vleis. Is met ‘n hele trollie vol goed terug camper toe. Hierdie was waarskynlik ons laaste groot inkopies voor ons by die huis is. Ek het net genoeg vleis gekoop tot net voor ons weer in Botswana is . Vir Botswana het ek maar I&J vis gekoop. Dis te heerlik om weer groot winkels te hê , verskeidenheid en bekende produkte. Ek het sommer ‘n hele klomp bederfies ook gekoop, oa Amarula Cream en sjokolade. Dis te heerlik in die aande saam met eish.
Buite sê die termostaat is dit 38 grade. Die camper se generator en aircon loop al lankal. Ons kom vroeg middag by Moorings Campsite aan. Op pad noord het ons ook hier gestaan. Die kampterein is doodstil, dis net ons en ‘n switserse paartjie wat nogsteeds hier is, Hulle was ‘n maand gelede ook reeds hier. Hulle gaan waarskynlik aanbly as plaasbestuurder as hulle werkspermitte goedgekeur word.
Uiteindelik kry ons kans om ons nuwe wok uit te probeer.

Dag 45, Bridge Camp, Zambia





Ons het ‘n bietjie vergeet hoe stamperige die not-so-great-east-road is. Pieter swets al lekker, gelukkig beplan ons om net tot by Bridge Camp te gaan.

Oral is tekens van slash and burn aktiwiteite, al die groot bome word afgekap, so meter bo die grond – ek hoop die idee is dat die bome later weer sal uitloop en in so mate nie heeltemal verlore is nie. Ek is nie seker hoe die proses van houtskool maak verloop nie. Ons het wel sulke stapels, soortgelyk aan die baksteen-oonde gesien wat staan en smeul. Ek sal tog ‘n bietjie rond vrae oor die houtkoolmakery.

Bridge Camp het ‘n mooi uitsig oor die Luangwa rivier. Dis baie warm en ek en die kinders besluit om tog te swem al lyk die swembad water nie blou nie. Die water word uit die rivier gepomp en is ‘n bietjie bruinerig, maar word glo gefilter. Wel, nadat ons in Lake Malawi en in die soutwater swembad van Mikadi Beach kon swem, sal ‘n bietjie Luangwa water seker nie skade doen nie. Die overlanders het besluit om nie die swembad te trotseer nie.

Vir my is die koste in geld en aan die omgewing te hoog om te worry oor water wat nie blou is nie. Dit geld ook vir gras by die kampeerplekke, as dit daar is, is dit wonderlik, maar is dit regverdig om ‘n kosbare produk soos water vir iets wat net dekoratief is te gebruik. Ek glo daar is heelwat ruimte hier en ook by ons huis om veral gryswater te gebruik.

Ek het die pragtigste vars heelhoender by die shoprite in Chipata raakgeloop en vanaand braai ons ‘n plathoender. Ek moes ‘n paar keer dink oor waar ek die hoender moet deursny om ‘n plathoender te kry. Saam met aartappelslaai en mengelslaai eet ons heerlik.

Dag 44 Malawi na Mama Rulas, Chipata, Zambia

Nadat ons gepak het is ons eerste stop, ‘n catering shop. Ek Het die casserole by die huis vergeet en Pieter wil ‘n ander een vir camper kry. Hy kry nie ‘n casserole nie, maar koop ‘n klein wok sodat ons stirfry kan maak. Na ‘n stop by Shoperite en ‘n bureau de change, moet ons nog net vir die kinders nog t-hemde koop, diesel ingooi en met ons laaste Malawian Kwatchas Pizza koop.
Ons is alweer ‘n bietjie agter met klere was, dis hoekom ons eers vir die kinders nog klere moet koop. Elkeen kry nog 2 t-hemde by die nuwe Mr Price in Lilongwe. Die pizzas ruik heerlik, maar moet wag vir middag-ete.
Ons is sonder enige probleme deur die grensposte en Chipata is omtrent 30km van die grens. Terwyl die kinders slaap gaan benut ek gou Mama rula’s se internet en vind uit of hulle dalk, miskien ‘n wasgoeddiens het…. JIPPEE, hulle het. Gou-gou het ek die hoop wasgoed gaan afgee. Dis nogal ‘n hele klomp en kos ZK 230 000 (omtrent R350).
Ons het nou al soveel overlandtrok bestuurders ontmoet, dat dit nou al redelik sosiaal raak waneer ons op ‘n plek aankom. Dit vat ook ‘n tydjie om uit tevind waar on s hulle laas gesien het. Dis ook gerustellend om te weet daar is nog “bekendes”op pad wat vir ons uitkyk en ons vir hulle. Ons braai die laaste vleis van Meatking in Arusha. Ons beplan om weer in Lusaka vleis te koop.

Dag 43, Mabuya Camp, Lilongwe

Dit was vandag ‘n lang dag op die pad, omtrent 9 ure, 550km van Chitimba tot in Liliongwe. Met die rit noord het ons al met die “kuspad”, seker eintlik die “meerpad”gery. By Mzuzu split die pad en ons ry die keer deur die binneland.
Malawi meer was lank gelede bekend as die “calender lake”, 365 myl lank en 52 myl wyd. Die binneland is ook mooi, daar is heelwat bosbou bedrywighede. Plantasies, hout langs die pad en stukkende lorries wat hout vervoer. Donderdae blyk om markdag te wees en dis ‘n miernes van bedrywigheid in die klein dorpies.
Dis ongelooflik hoe die natuur werk, oral is bome besig om te bot of nuwe blare uit te stoot terwyl dit nog nie ‘n druppel gereen het nie. Die eerste reëns kom teen die einde van Oktober. Aan die een kant lyk dit amper soos herfs met al die verskillende kleure blare. Een of ander boom se nuwe blaartjies is eers rooi, dan is daar die lemmetjie groen blare ook. Die koraalbome blom ook nog en een of ander tipe blompeer. Foto’s wys nie regtig hoe dit lyk nie.
Ons beplan om more na inkopies deur te ry Mama Rulas toe in Zambia. Dit is binnekort tyd vir die Lake of Stars Musiekfees. Die musiekfees duur 3 dae en die doel is om geld te in te samel , Malawi te bemark as toerisme bestemming en om Malawiese kunstenaars bloot te stel aan internasionale gehore.

Dag 42 Chitimba Beach Camp, Malawi





Vandag steek ons weer die grens oor na Malawi en dis ook hier waar Pieter die eerste geleentheid kry om sy nuwe voorneme uit te toets. Toe ons by die grenspos stop kom ‘n entrepreneur weer aan, “My friend, we need to talk”. Seker sê Pieter, but you have to pay me. No problem, he will pay, sê die entrepreneur. Pieter, but you must pay upfront USD50, before we talk. En toe waai die entrepreneur en pla ons nie verder nie.

Pieter raak sommer nou baie gekonfyt met Afrika shopping. Ek sê wat, en soos ons ry en hy sien dit of ‘n besige mark, dan stop hy en koop dit. Die laaste tyd is dit hoofsaaklik brood, eiers en gebottelde water.

Ons het in Arusha gebottelde water begin gebruik vir drink en kook. Daar is niks fout met ons camper se water nie, net die smaak. Ons koffie en koeldrank proe of dit met swembad water gemaak word. Na chloor en dis nie regtig lekker nie. Ek het al amper opgehou koffie drink en selfs water en koeldrank was ‘n stryd.

Ons kom so 3 uur op Chitimba aan, nadat ons eers langs die pad ‘n tafeltjie gekoop het, Pieter soek al lankal ‘n klein tafeltjie wat tussen ons kamp stoele kan staan om koffiebekers en so aan op neer te sit. Dit was ons laaste aankoop in Tanzania.

Die dorpie Karonga se claim to fame is die Malawisaurus wat omtrent 100 miljoen jaar gelede hier geleef het. Vir my lyk hy nogal soos die Lochness Monster.

Ons ontmoet weer die Reyneke gesin by Chitimba en die kinders speel heerlik. Later teken hulle gesiggies op die worsboom se worse.

Dag 40 & 41, Utengule Coffee Lodge and Farm, Mbeya, Tanzania





Ons staan weer op die helipad. Dis baie warm, Oktober is glo die warmste maand hier en die swembad word goed deur ons almal benut, so ook die restaurant. Die kinders noem enige restaurant die Spur en hulle wil net altyd by die Spur gaan eet.

Die plaas verbou koffie en ons besluit om plaas toe te stap, ek voel soos Karen Blixen van Out of Africa-faam tussen die koffie plantasies. Ek weet vir ‘n feit haar kinders het nie so gekerm en gekla soos myne nie. (Sy het nie kinders gehad nie). Die oes is alreeds afgehandel, maar dit was nogsteeds interessant om die plaas en plantasies te sien. Daar is skure, droog rakke, masjiene en ‘n kwekery met klein boompies.

Die ryp (rooi) koffiebone word met die hand deur die vrouens gepluk. Volgende word die vlees gedeelte van die vrug verwyder, as ek dan reg onthou word is die volgende stap fermentasie vir 2 of 3 dae om die parchmen t, dis so harde skilletjie om die dop te verwyder. Daarna is dit droograkke toe vir 10 tot 12 dae. Dan word die groen bone Mbeya toe gestuur waar dit ge-hull word, die harde dop om die kerm word nou verwyder, en dan eers word dit gerooster en gemaal. Op die plaas word net arabicca koffiebome geplant, hulle is selfbestuiwend. Volgens die plaasbestuurder wat ek later in die swembad ontmoet het en met vrae gepeper het, kan koffie bome tot 70 jaar oud word, maar op ‘n stadium neem produksie af. Indien die bome nie gesnoei word nie, kan dit so hoog as 5 – 8m word, wat oes onmoontlik sal maak. Die bome word gesnoei tot ‘n gerieflike plukhoogte, sodat jy nie nog met lere moet sukkel nie. Die koffiebome maak ook suiers en waneer produksie afneem, word die hoofstam afgesaag en van die suiers toegelaat om te groei wat dan weer verhoogde produksie tot gevolg het.

In Arusha het ek al opgelet dat daar altyd ander groot bome tussen die koffiebome geplant word. Ja, koffie het skaduwee nodig. Terwyl ons in die plantasies gestap het, het ons 3 bromvoels gesien.

Ons ontmoet ook hier vir Reynie en Leonie met hulle 2 kinders wat net so oud soos Emke en Engela is. Hulle werk en woon in Dar Es Salaam, maar is nou ook op ‘n maandlange toer. Nou het ons ook aan die einde gekom van ons tyd in Tanzania. Kan skaars glo ons was 20 nagte hier.

Tuesday, October 5, 2010

Dag 39 Kisolanza Farm, Iringa






Die pad was vandag nie so lank nie (in kilometers, nie) 280km, maar teen maksimum van 50km per uur gaan dit ons seker 6 ure neem. Ons moet weer die bergpas met die baie padwerke oorsteek. Verder kom die spoedgrens by die dorpies af na 50km/h en later 30km/h. Om seker te maak jy ry stadiger het Tanzania mean speed bumps, groot enkeles, kleintjies van 4 en om seker te maak jy ry nie om hulle nie, ‘n ekstra groot een aan die kant van die pad.

Vanaand kamp ons weer by Kisolanza Farm wat ‘n gunsteling by ons is. Ek sit vandag foto’s op die blog waarvan party geneem is toe ons laas op die pad gery het, niks het sedert dien verander nie.

Dag 38, Tan-Swiss Lodge






Gisternag het ek begin sleg voel. Ek dink ek het Engela se bug ge-erf. Al wat ek wil doen is slaap, nadat ek ‘n baie slegte nag gehad het. Dit voel of ek elke uur wakker was om toilet toe te draf. Dankie tog vir die porta-potty in die camper.
Ons het teen 6 uur vertrek om die Saterdag-oggend mark verkeer op die bergpas te probeer vermy. Ons het 4uur die middag by Tan-Swiss Lodge aan gekom, nadat ons weer deur Mikumi Nasionale Park gery het. Pieter het olifante, kameelperde, buffels, sebras, impalas en bobbejane gesien. Ek het hoofsaaklik op die vloer gelê en jammer voel vir myself.

Pieter en Emke het vandag weer vir haar croc’s langs die pad gaan koop. Sy het omtrent gestraal oor haar nuwe pienk croc’s vars van China af. Pieter het ook vir ons ‘n tradisionele houtskoolstofie gekoop. Die kampeerplekke het nie ingeboude braaiers nie.

Omdat ek soms ‘n dag of 3 agter raak met die blog, skryf ek nou terwyl ek weer GESOND is!!! Dankie tog. Ek het bietjie deur die medisyne trommel gesoek na die antibiotika (Ciprobay XR) wat die dokter voorgeskryf het, ek dink hy het gese vir diaree 1 tablet eenmalig en vir blaasinfeksie 1 tablet 1 keer per dag vir 3 dae. Dit het wonderlik gewerk. Wat die diaree veroorsaak het is nog ‘n wonder. Engela se Augmentin ES-600 het ook goed gewerk, hoop maar dit was die regte een om te gebruik.

Een van die dinge wat ons reis regtig vergemaklik het, behalwe die tannie van Tracks for Africa (GPS) was ons internet konneksie van StratoSat Datacom. Ek het gister-aand met Nico Bogaarts van Nederland geskype en die lyn was so helder dit het gevoel of ons langs mekaar staan. Die grootste voordeel van ons Stratosat konneksie is die geleentheid wat dit bied om die blog redelik gereeld te up-date. As dit nie gereeld ge-update is nie, is dit omdat ons te laat op ‘n plek aankom en te moeg is om die skottel op te stel. Ons ontvang wonderlike steun van Gerhard Botha en sy span wat elke keer sodra ons, ons posisie deur SMS, ons konneksie weer aktiveer.

Hier is nog ‘n paar dingetjies van Tanzania wat ons interessant of anders gevind het:

Eiers: Eers was die eiers wat ons gekoop het mooi geel, maar later het ons al hoe meer sulke bleek eiergele begin kry. Shame, het ek gedink, die hoenders kort bietjie geelmielies. Later het ek agter gekom jy kies behalwe die grootte in die winkel ook, yellow or white yolk. Hoekom dit so is weet ek nie. Ons het ook agter gekom dis beter om jou leë eierboksies te bêre want as jy langs die pad of soms in kleinerige winkeltjies eiers koop, kry jy dit in ‘n plastieksak.

Kondensmelk: Pieter het ‘n paar keer gesmag na kondensmelk-koffie en ons het nie kondensmelk in die kas nie. In Arusha koop ek toe 2 blikke by Shoprite. Ek besluit om Pieter te verras met lekker kondensmelk-koffie, maar hy sê dit proe of ek heuning by die kondensmelk-koffie gegooi het. Toe ek die blikkie oopgemaak het, het ek gesien dit lyk heelwat donkerder as ons tipe by die huis, amper asof dit ‘n bietjie gekook is. Later het ek gelees die Pot o’gold “sweetened condensed filled milk” is ‘n produk van Malaysia en word gemaak van suiker, Palmolie, milk solids en Vitamine A,B & D. Ek dink dit verklaar die smaak, ons s’n word van Volroom melk en suiker gemaak.

Huwelike tussen vroue: Oral in die Afrika lande word daar nogal gefrons oor homoseksuele verhoudings, gewoonlik is dit teen die wet, maar in die noorde van Tanzania het dieKurya stam die ou tradisie waar ouerige weduwees sonder kinders met ‘n jonger vrou “trou”, wat haar dan van kinders/erfgename voorsien en haar en die vee versorg. ‘n Manlike familielid van die weduwee word genader om te help om die bruid swanger te kry. Die kinders behoort aan die weduwee en die bruid. Albulah (Sarel van der Merwe van ons Selous trip) het ons hiervan vertel en in Sondag se Sunday News was daar toe ook ‘n artikel hieroor.