Tuesday, June 25, 2013

Dag 3, Maandag, 24 Junie, Motopi

Ons word wakker met stilte om ons, net af en toe roep daar ‘n visarend en ‘n bok se klok klingel. Die afvaardiging van Rietvallei vertrek weer terug Pretoria toe en ons vat ‘n rusdag. Die kinders speel met die honde, Optel, Toffie, Prinses, Lulu,Sneelie en die 3 katte. Daar is ook boerbokke wat die Cronjes aanhou vir slagdoeleindes. Die girls is dol oor die lammers.
By Motopi is nie elektrisiteit nie, so ons is vir die eerste keer aangewese net op die sonpaneel. Teen 2 uur ry ons saam met Tannie Dorette om te gaan kyk waar hulle werk en die 90 kindertjies kosgee. Ongelukkig het die kinders vandag vroeg geeet en teruggegaan skool toe, maar ons sien wel die oorspronklike boomkerk waar hulle die eerste ruk dienste onder ‘n boom gehou het. Later was daar ‘n afdak. Die afdak is toegebou en geoormerk om ‘n dagsorgsentrum te word waneer daar eendag ‘n donateur te voorskyn kom. ‘n Pragtige kerk is ook gebou, kompleet met ‘n kerkklok.
Ek vra uit by tannie Dorette oor die winkels in Motopi vir ‘n voorskoot, maar sy verseker my daar is nie ‘n kans daarvoor in Motopi nie. Ons  besoek een van die plaaslike slaghuise vir die goedkoop fillet waarvan die Cronjes ons vertel het P25 per kilogram. By die slaghuis hoor ons dat hulle wel die oggend geslag het, maar die blokman is iewers in die village. Dankie tog vir selfone. Ons wag ‘n rukkie en toe is die blokman daar, Pieter wag maar buite, hy voel ‘n bietjie ongemaklik met die Afrika slaghuis se reuk. Hier is nog ‘n paar pryse by die slaghuis:
T-bone P19, Steak P17, Oxtail P25 en  Head & Lungs P40. Ha-ha seker net in ‘n klein dorpie in Botswana wat fillet goedkoper sal wees as ‘n beeskop en longe. Die 2.1kg fillet kos my toe P54. Snaaks genoeg kos ‘n baal lusern P100.
Terug by die kamp besluit ek om oliebolle te maak, (dink vetkoeke met droe vrugte in die beslag en nie donuts nie). Tradisioneel eet die Hollanders dit in die winter in die omgewing van ou jaar. ek het besluit van nou af eet ons dit in Junie ook, waneer dit teoreties veronderstel is om koud te wees. Dit was egter vandag 25 grade, ek begin dink al die vests en truie het ek verniet ingepak.
Emke, Ronel, Ouderling Louis Kruger, Tannie Dorette Cronje, Ds Gerhard van Rhyn en Engela heel voor

Die boomkerk, interessant genoeg het dit nooit gereen gedurende kerktyd nie


Die nuwe kerk

Boteti rivier

Oliebolle

Dag 2, Kwa Nokeng tot Motopi, Sondag 23 Junie

Ons is vas geparkeer, maar gelukkig is die Acacia Overland trok ook haastig en ons is net na 7am op pad. Vandag is dit heeldag op die pad, ons hoop om Motopi teen vanaand te bereik. Die eerste ding wat ek agtergekom het,wat agter gebly het in Pretoria is my voorskoot. Ek is nogal ‘n kompulsiewe voorskoot draer, en die soektog na ‘n voorskoot begin.
Pieter stel voor ons luister na een van die preke wat hy afgelaai het van die internet. Ek kies vir Charl van Rooy.
Ons stop op Serowe vir airtime, ek draf gou by die Pep en Spar in vir ‘n voorskoot (kry niks nie) gelukkig kry ek vir Engela pantoffels by Pep. Toe is ons weer vort. Ons ry by die Mopipi panne verby en ek neem foto’s sommer so in die ry.  Net na 3 uur besluit Pieter dis tyd vir ‘n aanddiens en ons luister na nog ‘n preek.
Net na 4 ry Pieter amper ‘n kalf raak wat uit die bosse gespring het en voor die trok ingehardloop het, ons mis die kalf rakelings, maar ongelukkig het die kalf sy been gebreek. Ons kry nie die eienaar nie, daar is niks wat ons vir die kalf kan doen nie en ry dus maar aan.
Voor sononder is ons op Motopi en ontmoet uiteindelik vir Oom Thys en Tannie  Dorette Cronje en Simeon. Hulle het ook besoek van ouderling Louis Kruger en Ds Gerhard van Rhyn van Gereformeerde Kerk Rietvallei.  Toe ons by die hek inry is Emke se eerste woorde: "Kyk hulle het honde". Emke is dol oor honde.
Piekniek langs die A14



Mopipi panne


Motopi is ‘n dorpie so 80km voor Maun op die walle van die Botetirivier.

Dag 1 22 Junie 2013, Pta tot Kwa Nokeng, Botswana – 346km

Ons vertrek op tyd. Die kinders kan nie wag nie, Pieter het nuwe DVD’s van Kalahari bestel en gesê hulle kan die pakkies eers oopmaak waneer ons met vakansie ry. Vir ure het ons nie geweet ons het kinders nie. Teen vanaand gaan hulle vierkantige oë hê.
Ons stop by Kranskop Plaza vir koffie en jaffels. Dis ook waar ons die snelweg verlaat om te kyk hoe lyk Nylstroom, Vaalwater en Ellisras. "Blink" en jy het Vaalwater gemis – baie klein plekkie. Ek bly deurmekaar  raak met Vaalwater, Hartswater en Vaalharts. Tussen Vaalwater en Ellisras skiet ‘n klip op en "chip" die windskerm. Ons besluit om te kyk of Ellisras darem ‘n PG Glass het. Hulle het, maar die is om een of ander rede vandag om 11am reeds toe. Gelukkig maak Jack’s Paint chips reg. Nie lank nie en ons is oppad.
Ons ry baie goed en dink daaraan om verder te ry as Kwa Nokeng – afhangende van hoe ons vorder met die grensposte. SA kant neem 15min en toe is ons weer op pad, maar o wee, aan Botswana kant gaan dit stadig. Die ry is baie lank met al die Suid Afrikaners (die skole het gister gesluit) en die vragmotors. Uiteindelik neem dit ons 2 ure om deur die Botswana grenspos te kom. Kwa Nokeng hier kom ons!
In die ry loop ons Paul en Maria  Eberhard raak (Pieter het hulle camper herken en ek hulle gesigte). Voor ons 2010 safari het ek ‘n paar keer per epos met Paul gepraat, maar nog nooit ontmoet nie.
Hulle besluit om ook by Kwa Nokeng te kamp dan kuier ons verder. Ons braai saam en ruil stories uit. Kwa Nokeng is reg by die Martin's drift grenspos op die walle van die Limpoporivier. Kampering  met kragpunt kos vir 2 Volw en 2 kinders Pula 320.00

Braai saam met Maria en Paul Eberhard
Voor staan Acacia, ons agter hulle en langs ons staan Paul-hulle
Pieter en Paul is 'n bietjie laf!

Sunday, June 16, 2013

Namibia 2013

16 Junie 2013

Die tyd vlieg en binne dae is ons (hopelik) op pad na  Namibia via Botswana. Die dae is vol met lysies maak en gou-gou winkel toe gaan. Onthou die malaria pille, Waar is die camper se papiere? en so gaan dit aan. Ons beplan om 'n Orange SIM kaart vir Botswana by Nashua Mobile in Brooklyn te koop, sodat ons darem in Botswana op die lug is vir die paar dae wat ons daar is. Namibia se SIM kaart sal ons daar koop.

Ek hoop om elke dag of twee te blog - afhangende van die spoed van die internet.