Tuesday, June 25, 2013

Dag 3, Maandag, 24 Junie, Motopi

Ons word wakker met stilte om ons, net af en toe roep daar ‘n visarend en ‘n bok se klok klingel. Die afvaardiging van Rietvallei vertrek weer terug Pretoria toe en ons vat ‘n rusdag. Die kinders speel met die honde, Optel, Toffie, Prinses, Lulu,Sneelie en die 3 katte. Daar is ook boerbokke wat die Cronjes aanhou vir slagdoeleindes. Die girls is dol oor die lammers.
By Motopi is nie elektrisiteit nie, so ons is vir die eerste keer aangewese net op die sonpaneel. Teen 2 uur ry ons saam met Tannie Dorette om te gaan kyk waar hulle werk en die 90 kindertjies kosgee. Ongelukkig het die kinders vandag vroeg geeet en teruggegaan skool toe, maar ons sien wel die oorspronklike boomkerk waar hulle die eerste ruk dienste onder ‘n boom gehou het. Later was daar ‘n afdak. Die afdak is toegebou en geoormerk om ‘n dagsorgsentrum te word waneer daar eendag ‘n donateur te voorskyn kom. ‘n Pragtige kerk is ook gebou, kompleet met ‘n kerkklok.
Ek vra uit by tannie Dorette oor die winkels in Motopi vir ‘n voorskoot, maar sy verseker my daar is nie ‘n kans daarvoor in Motopi nie. Ons  besoek een van die plaaslike slaghuise vir die goedkoop fillet waarvan die Cronjes ons vertel het P25 per kilogram. By die slaghuis hoor ons dat hulle wel die oggend geslag het, maar die blokman is iewers in die village. Dankie tog vir selfone. Ons wag ‘n rukkie en toe is die blokman daar, Pieter wag maar buite, hy voel ‘n bietjie ongemaklik met die Afrika slaghuis se reuk. Hier is nog ‘n paar pryse by die slaghuis:
T-bone P19, Steak P17, Oxtail P25 en  Head & Lungs P40. Ha-ha seker net in ‘n klein dorpie in Botswana wat fillet goedkoper sal wees as ‘n beeskop en longe. Die 2.1kg fillet kos my toe P54. Snaaks genoeg kos ‘n baal lusern P100.
Terug by die kamp besluit ek om oliebolle te maak, (dink vetkoeke met droe vrugte in die beslag en nie donuts nie). Tradisioneel eet die Hollanders dit in die winter in die omgewing van ou jaar. ek het besluit van nou af eet ons dit in Junie ook, waneer dit teoreties veronderstel is om koud te wees. Dit was egter vandag 25 grade, ek begin dink al die vests en truie het ek verniet ingepak.
Emke, Ronel, Ouderling Louis Kruger, Tannie Dorette Cronje, Ds Gerhard van Rhyn en Engela heel voor

Die boomkerk, interessant genoeg het dit nooit gereen gedurende kerktyd nie


Die nuwe kerk

Boteti rivier

Oliebolle

1 comment:

  1. Woensdag Vandag in Pretoria. Ek onthou van julle reisjoernaal en skuif gou in voor die rekenaar om die link te soek, en saam met n koppie koffie reis ek heerlik saam.Hoop jy kry gou n voorskoot Ronel!Esther

    ReplyDelete