Tuesday, June 25, 2013

Dag 1 22 Junie 2013, Pta tot Kwa Nokeng, Botswana – 346km

Ons vertrek op tyd. Die kinders kan nie wag nie, Pieter het nuwe DVD’s van Kalahari bestel en gesê hulle kan die pakkies eers oopmaak waneer ons met vakansie ry. Vir ure het ons nie geweet ons het kinders nie. Teen vanaand gaan hulle vierkantige oë hê.
Ons stop by Kranskop Plaza vir koffie en jaffels. Dis ook waar ons die snelweg verlaat om te kyk hoe lyk Nylstroom, Vaalwater en Ellisras. "Blink" en jy het Vaalwater gemis – baie klein plekkie. Ek bly deurmekaar  raak met Vaalwater, Hartswater en Vaalharts. Tussen Vaalwater en Ellisras skiet ‘n klip op en "chip" die windskerm. Ons besluit om te kyk of Ellisras darem ‘n PG Glass het. Hulle het, maar die is om een of ander rede vandag om 11am reeds toe. Gelukkig maak Jack’s Paint chips reg. Nie lank nie en ons is oppad.
Ons ry baie goed en dink daaraan om verder te ry as Kwa Nokeng – afhangende van hoe ons vorder met die grensposte. SA kant neem 15min en toe is ons weer op pad, maar o wee, aan Botswana kant gaan dit stadig. Die ry is baie lank met al die Suid Afrikaners (die skole het gister gesluit) en die vragmotors. Uiteindelik neem dit ons 2 ure om deur die Botswana grenspos te kom. Kwa Nokeng hier kom ons!
In die ry loop ons Paul en Maria  Eberhard raak (Pieter het hulle camper herken en ek hulle gesigte). Voor ons 2010 safari het ek ‘n paar keer per epos met Paul gepraat, maar nog nooit ontmoet nie.
Hulle besluit om ook by Kwa Nokeng te kamp dan kuier ons verder. Ons braai saam en ruil stories uit. Kwa Nokeng is reg by die Martin's drift grenspos op die walle van die Limpoporivier. Kampering  met kragpunt kos vir 2 Volw en 2 kinders Pula 320.00

Braai saam met Maria en Paul Eberhard
Voor staan Acacia, ons agter hulle en langs ons staan Paul-hulle
Pieter en Paul is 'n bietjie laf!

No comments:

Post a Comment