Sunday, July 14, 2013

Dag 21 Vrydag, 12 Julie 2013 - Kang tot Roerfontein

Net na sonop is ons oppad. Ons ry vir 'n uur of wat voordat ons vir ontbyt stop, ja, vandag is dit die bacon van Gobabis Spar en eiers. Ons kry 'n gawe piekniekplek tussen 2 kameeldoringbome.
Botswana, maar veral Namibia het die wonderlikste piekniek plekke. In Namibia word dit mooi blou geverf en baie mooi instand gehou. Ons het selfs die bakkies met die werkers gesien ry van piekniekplek tot piekniekplek wat dit skoon maak, die vullisdromme leegmaak en die tafels en stoeltjies WAS!!!!

Nog iets wat opvallend was, was die baie vlakvarke wat ons in die padreserwes in Namibia gesien het, veral vroegoggend of laatmiddag. Hier in Botswana is dit net donkies en bokke, ek dink die vlakvarke is dalk lankal opgeëet...

Na al my moeite om die rooivleis gaar te maak, was daar nie enige "vet fences" tussen Buitepos en Skilpadsnek nie. Teen een uur is ons deur die grensposte. Ons kan huistoe ry, maar wil die vakansie nog 'n dag rek, verder kan ons Radio Sonder Grense weer goed opvang en dit klink of Cosatu een of ander optog by Swartruggens se tolhek het. Dis regtig nie hoe ons, ons vakansie eindig nie.

'n Oproep na vriende van ons, Danie en Marinda Hattingh wat naby Koster boer, verskaf kampplek op hulle plaas vir vanaand. Ons het hulle lanklaas gesien en sien uit na die kuier. Ons braai en kuier tot laat.


Dit is so asof ons vakansie 'n volle sirkel maak, van ons eerste nagte was op Motopi in Botswana by Thys en Dorette Cronje (nuwe vriende) waar die kinders so lekker gespeel het met al die honde en ons sluit af ons laaste aand, by Danie en Marinda (ou vriende) waar die kinders so lekker speel met al die honde, dat hulle sommer 2 nagte wil bly.


No comments:

Post a Comment