Monday, May 2, 2016

Bettiesbaai, 21 - 24 Maart 2016

Ons vlieg met Mango Kaap toe. Die kinders is baie opgewonde. Engela sorg vir 'n ligter oomblik toe sy by die venster uitkyk en sê dat die karretjies darem baie klein, amper so klein soos kopluise. Ai, ons kinders hou ons nederig.

Ons het 'n kar gehuur vir die paar dae en kry 'n Renault Sandero. Alles pas net-net in . Vanaand slaap ons by my Ma en Oom Mike op Betties Baai.

Ons het rondgery en soos gewoonlik die pikkewyne by Stony Point besoek.


Waneer die wind gaan lê het, het ons heerlik rondgestap tussen die fynbos en op die strand.


 Ons het ook met die kuspad van Maccasar af gery via, Muizenberg en dis ook waar die padwerke begin het, sukkel-sukkel is ons verby Simonstad, Vishoek en al die ander mooi plekkies tot by Houtbaai. Dit was tyd vir middagete en soos gewoonlik is Mariners Wharf ons keuse. Ek bestel vir ons die Family Feast vir R250 wat 2 stukke stokvis, 1 stuk snoek, vol porsie kalamarie, groot skyfies, 4 broodrolletjies en 'n 2l coke insluit. Dit was heerlik, ons was almal knippel dik geëet, wat oorbly het ons vir die straatkinders gegee.
Na ete stap ons deur die hawe en die kinders oe en ah oor al die bote, robbe en seemeeue. Ek en Pieter lag net, want hulle weet nog nie van die verrassing nie. Ons het heerlik my Ma hulle gekuier, die kinders geniet Ouma Emmie vreeslik baie en wens altyd ons kon mekaar meer sien. Ek ook.



Sunday, May 1, 2016

St Helena Eiland, Suid-Atlantiese Oseaan en die RMS St Helena 2016

Die eerste keer wat ek van St Helena gehoor het was iewers in hoërskool in die geskiedenisklas. En dit het gehandel oor Napoleon wat daar 'n banneling was en ook daar gesterf het. Later het ek ook gehoor van die boere wat krygsgevangenes daar was.

Meer onlangs was dit die advertensies van  Andrew Weir Shipping  in die Weg en Getaway tydskrifte wat ons gesien het. Dit het nie net vir ons oor die eiland gegaan nie, maar ook oor die RMS St Helena, een van die laaste posbote nog in diens. Toe toe ons verlede jaar (2015) hoor die lughawe word nou gebou en dat die boot van diens ontrek word, het dit vuur onder ons gemaak.




In Mei 2015 begin ons met die navorsing en besprekings. Ons bespreek 'n 4 bed kajuit met 'n klein badkamertjie, koste ongeveer R60 000. Die kinders is nog 0/12 en ry halfprys.


Sunday, July 14, 2013

Dag 22, Saterdag 13 Julie 2013 - Roerfontein tot huis

Na ontbyt raak ons opgewonde om huistoe te gaan. Ons groet die Hattinghs en Pretoria hier kom ons. By Broederstroom stop ons by die slaghuis, vir vleis wat ons ken en weet wat heerlik gaan wees, die dobbelspel met vleis is verby - gaan dit taai of lekker wees? Al het ek die blog getik, het ek nogtands tred verloor met die dae en datums en het gedink dis vandag Sondag en toe ek nie die Rapport kon opspoor in die winkel nie, eers besef dis Saterdag.

Ons was so 1uur by die huis, ek het nou al 2 bondels wasgoed gewas, Pieter het al Swakop en Hentiesbaai se sout van die onderstel afgewas en ek was al 'n paar keer om die huis om na my tuin te kyk. Alles lyk goed (dankie Nellie, Johan en Shongela!!!!) - my ertjies blom uitbundig en daar was selfs 'n klein tamatie en suurlemoen oes.

Ek het vir 'n verandering baie goed boekgehou van ons uitgawes. Ek verwag ons het binne ons begroting gebly, maar ek sal binne 'n dag op wat 'n opsomming post van die kampeerplekke waar ons was, ens.

Dag 21 Vrydag, 12 Julie 2013 - Kang tot Roerfontein

Net na sonop is ons oppad. Ons ry vir 'n uur of wat voordat ons vir ontbyt stop, ja, vandag is dit die bacon van Gobabis Spar en eiers. Ons kry 'n gawe piekniekplek tussen 2 kameeldoringbome.
Botswana, maar veral Namibia het die wonderlikste piekniek plekke. In Namibia word dit mooi blou geverf en baie mooi instand gehou. Ons het selfs die bakkies met die werkers gesien ry van piekniekplek tot piekniekplek wat dit skoon maak, die vullisdromme leegmaak en die tafels en stoeltjies WAS!!!!

Nog iets wat opvallend was, was die baie vlakvarke wat ons in die padreserwes in Namibia gesien het, veral vroegoggend of laatmiddag. Hier in Botswana is dit net donkies en bokke, ek dink die vlakvarke is dalk lankal opgeëet...

Na al my moeite om die rooivleis gaar te maak, was daar nie enige "vet fences" tussen Buitepos en Skilpadsnek nie. Teen een uur is ons deur die grensposte. Ons kan huistoe ry, maar wil die vakansie nog 'n dag rek, verder kan ons Radio Sonder Grense weer goed opvang en dit klink of Cosatu een of ander optog by Swartruggens se tolhek het. Dis regtig nie hoe ons, ons vakansie eindig nie.

'n Oproep na vriende van ons, Danie en Marinda Hattingh wat naby Koster boer, verskaf kampplek op hulle plaas vir vanaand. Ons het hulle lanklaas gesien en sien uit na die kuier. Ons braai en kuier tot laat.


Dit is so asof ons vakansie 'n volle sirkel maak, van ons eerste nagte was op Motopi in Botswana by Thys en Dorette Cronje (nuwe vriende) waar die kinders so lekker gespeel het met al die honde en ons sluit af ons laaste aand, by Danie en Marinda (ou vriende) waar die kinders so lekker speel met al die honde, dat hulle sommer 2 nagte wil bly.


Dag 20 Donderdag, 11 Julie 2013, Gobabis tot Kang

Gobabis was die eerste dorp waar ek kerktorings gesien het voor ek 'n watertoring gesien het. In Namibia sien jy altyd die watertoring eerste.
Ons het by Goba lodge gekamp, daar was baie meer fasiliteite as wat ons nodig gehad het, restaurant, konferensie sentrum, kapelletjie, tennisbane en 'n swembad. Die kinders het die kampie met die volstruise, blesbokke en 3 gemsbokke geniet.
Met ons vetrek vanoggend het ek gou 'n paar fotos geneem, toe Pieter vir my beduie daar is iets in die boom. Ja, waarlik - daar sit 'n klein uiltjie. In die boek opgesoek - dit was 'n witkoluiltjie.
Ons staanpplek met lieflike gras by Goba Lodge

Pieter maak die camper weer vol diesel en ek koop die laaste kos vir die vakansie. Om een of ander rede was bacon maar skaars in die winkels, maar hier in Gobabis Spar  gooi ek 'n pakkie in die mandjie - hopelik verloor ek dit nie weer by een of ander "ver fence" nie. Dis ons eerste bacon vir die vakansie.

Die Buitepos grenskruising lewer geen probleme op nie en teen laat middag arriveer ons by Kang. Daar gaan nie veel aan op Kang die, dit lyk soos 'n Ultra City sonder 'n Wimpy - daar is wel 'n restaurant. Pieter maak die camper weer vol en ek probeer kampeerplek kry. Teen Pula 80 is dit bargain. Maar toe Pieter wil betaal is hulle kaartmasjien off-line. Ons begin geld raap en skraap - die dieselrekening is Pula 1350.35 (of R1687.94) Ons gooi al ons rande, namibiese dollars en pulas bymekaar maar kort teen die einde nog Pula 160. Ons bied US dollars aan vir die verskil, maar hulle is bereid dat ons solank kamp en waneer hulle weer online is ons te kom roep om die  kaart te swipe.

Ewe skielik tref dit my dat ek nog 'n koevertjie met R1000 van Women with Curves se geld in my gewone handsak het, ek en Pieter slaag albei 'n groot sug van verligting. Waneer ons reis gebruik ek my lap Malawi handsak in plaas van my gewone handsak. Die Malawi handsak het sy onstaan gehad met ons vorige vakansie in 2010 - toe die geld note te veel was vir my beursie, dan kom ek dit sommer so los in die handsak by ATM gooi, verder is die skouerband baie lank en ek dra dit skuins oor my skouer - sodat my hande los is en ek 'n kind met elke hand kan vashou en hulle nie verloor in een of ander besige mark of straat nie.

Wednesday, July 10, 2013

Dag 19 Woensdag, Swakop tot Gobabis

Ons is donker weg uit Swakop en het baie goed gevorder. Ons was die heeldag op die pad en Pieter was nogal moeg vanaand. Op Okahandja het ons gestop vir biltong, skaaptjops en koeksisters.

Ek het gelees, maar hoofsaaklik die blog getik. Dit is nogal 'n uitdaging om so in die ry op die notebook te tik. Ek was teen middagete op datum met die blog, maar het moed opgegee om die foto's uit te sorteer en te re-size, dus doen ek dit vanaand, voor ek die blog kan post.  Dis 'n verligting om te weet alles is weer op datum.

Ons het die skaaptjops gebraai, ek het weer oliebolle gemaak vir padkos en weer Pieter en Emke se favourite pampoen gereg. Ek het nie eers een foto vandag geneem nie, sal more kyk of ek iets sien wat my aandag trek

Dag 18 Dinsdag, 9 Julie 2013 – Swakopmund



Vandag gaan ons op ‘n halfdag dolfyn en rob toer saam met Laramon Tours. Vir die eerste keer kan ek die appeal van ‘n boot sien. 
Ons vaartuig is motorised catamaran. Alles is goed georganiseer. Ons het nie ver gevaar nie, toe daar ‘n rob op die boot spring, baie duidelik nie die eerstre keer nie, Pieter ons gids se van die robbe is al baie mak en ons kan aan van hulle vat. Ons is so 22 mense aan boord.

Die meeue draai om die boot  en van tyd tot tyd trekduikers en pelikane ook. Later kom land 2 van die pelikane op die boot langs Emke, sy is gefassineerd.

 Emke en Engela staan heel voor op die boot en tel die jellievisse wat verby kom. Die jellievisse is so oranjebruin kleur.
Ons vaar naby ‘n robkolonie verby, daar is duisende van hulle, hulle is baie nuuskierig en spring uit die water soos dolfyne. En so van Dolfyne gepraat, ongelukkig kry ons hulle nie te sien nie.

Ons bootvaart sluit verversings in en sommer vroeg-vroeg is ons OBS aangebied en aangesien dit so koud is het ons nie gehuiwer nie.  Nou is dit tyd vir vonkelwyn en oesters. Jackson is besig om die oesters oop en los te maak en op die skinkbord tussen suurlemoene te pak. Engela hou hom fyn dop, sy is van plan om die oesters ook te probeer.

Buiten die oester is daar ook platters vol vis, frikkadelle, hoender en toebroodjies. Pieter was die eertse om die oesters te probeer, ek volgende en toe Engela. Engela het volstaan by een, maar ek en Pieter het op die ou end elkeen 3 geeet. Nou hoe proe dit?  Jy proe basies die seewater en die suurlemoensap, die oester self sluk jy net. Lekker genoeg, maar ek twyfel of ek ooit dit in ‘n restaurant sal bestel.

Gou-gou is die 3 ure verby en ons is weer op die kaai. In die vlakwater loop die groot flaminke. Vandag wil ons vis koop om saam te neem huistoe, die kinders na die Kristal Gallerie toe neem en die poeding by The Tug gaan eet.
Die poeding was ‘n wonderlike manier om ons vakansie af te sluit, ek, Pieter en Emke het die warm Cherries Jubilee met roomys geeet en Engela  het vanilla roomys met warm sjokoladesous gekies, en het sy dit geniet – tot haar wange was vol sjokolade sous.
More begin ons terugry huistoe. Ons beplan om iewers tussen Windhoek en Gobabis oor te slaap.
Emke en Engela vir oulaas op die strand