Na ontbyt pak ons op, om weer Rundu toe gaan. Hierdie was
ons goedkoopste kampering op die vakansie ND134. Net ek en Pieter betaal elk ND
60, koop ‘n kaart vir ND10 en 2 bondeltjies hout teen ND4. Dis nou Sondag en ons verwag die dorp sal
stiller wees as gister. Vandag gaan ons kyk of die huis waar ons gebly het nog
staan.
Ons was reg, die dorp is stiller as gister. Ons beweeg weg
van die nuwe hoofstraat af tot by die Laerskool Noordgrens. Die skool lyk nog
vir my min of meer dieselfde, die poskantoor is ook nog op dieselfde plek.
Radio Kavango is nou die Namibia Broadcasting
Corporation wat ook min of meer onveranderd is.
Hier was ek vir 3 jaar op skool terwyl my Pa hier in die weermag was |
Die swembad is nou leeg en
verwaarloos. Ons draai links by die poskantoor. Aan die regterkant was altyd ‘n
park met ‘n kameelperd in, die het nou ‘n kerkgebou gekry.
Die straat waarin ons gebly het is nogsteeds nie geteer nie
en die huis staan nog. Die tuin is heeltemal anders en toegegroei. Ongelooflik
wat 30 jaar aan ‘n tuin kan doen.
Ons vorige huis |
Die bomskuiling in die agtertuin staan nog,
ek het vergeet daar was ‘n gastekamer aan die kant van die huis. Daar is nog dieselfde
ranker op die draad in die voortuin.
Oorblyfsels van ons bomskuiling |
Ons ry verder deur die dorp verby die huis van die Nelle (of
is dit Nels?) In die rigting vd
watertoring. Die area waar die karavane was, is toegebou onder die huise. Ons
draai weer terug rivier toe en kom by die sportvelde uit, dit is erg verwaarloos maar daar speel ‘n klompie
mense sokker. Die pad wat verby die Voortrekkers se gronde geloop het, loop
dood teen die agterkant vd gebou wat Rundu se ontspanningsklub was. Die saal
waar ons ballet gedoen het, het in onbruik verval. Ek is bly dat ek Rundu weer
besoek het, dis jammer dat alles so veral het, maar soos Pieter sê daar is niks
wat die dorp aan die gang hou nie, geen landbou of een of ander groot industrie
nie. Ek dink die ontrekking van die weermag met onafhanklikheidswording was die
doodslag van die dorp.
Omdat ons weer deur ‘n "vet fence"( vet soos in veeart in
engels en nie dik nie) moet gaan, besluit ek om vir eers nie nog vleis te koop
nie. Dit is ook by die "vet fence" wat hulle aan boord kom om ons yskas en
vrieskas te inspekteer. Alles is reg. Ek bly verbaas hoeveel van die mense
Afrikaans praat. Die B8 tussen Rundu en Grootfontein is ‘n baie goeie pad. Ons
mik om op Tsumeb te slaap – daar is ‘n munisipale kampeerplek. Maar eers gaan
ons ‘n draai maak by die Hoba meteoriet. Dis so 20km uit ons pad uit, maar
waneer kom ons weer hier verby???
Die hele uitstalling by die Meteoriet is baie mooi – dis ‘n
nasionale gedenkwaardigheid en word baie mooi instandgehou.
Kyk, die magneet plak. Die meteoriet is omtrent 80% yster |
No comments:
Post a Comment