Sunday, October 17, 2010

Dag 49, Sinametella Camp, Hwange National park, Zimbabwe





Dit was ‘n lieflike pad uit vic Falls uit, met groot bome langs die pad , lyk amper of dit aangeplant is. Hwange is omtrent 100km van Vic Falls af, ons is so net na 11 uur op Hwange die dorpie. Ons sien die eerste olifante net voor ons oor die treinspoor ry, naby die ingang.
Dis omtrent nog ‘n uur ser ry voor ons by Sinametella kamp aankom. Hulle het kampeerplek vir ons, MAAR ons sal nie met die camper op hulle paaie mag ry nie – dis te groot. Nou hoekom hulle nie so gese het by die hek nie, wonder ons nou nog. Ongelukkig bied hulle nie wildsritte aan nie. Main Camp bied wildsritte aan, maar ons sal more weer daaroor dink.
Ons is die enigste gaste vanaand en kies ‘n lekker plekkie na aan die kant van die kampeerplek. Sinamatella is op ‘n koppie gebou met ‘n lieflike uitsig oor die vlakte. Ons sien sommer dadelik ‘n yslike trop buffels op pad om water te drink, maklik 200 van hulle. Later met die verkyker sien ons rooibokke, sebras, koedoes, vlakvarke en olifante.
Die dame by ontvangs se die uitsig van die restaurant se stoep af is ook baie mooi. Ons stap laatmiddag met die kinders daarheen. Dit tragies om te sien hoe sulke eens wonderlike fasiliteite agteruit gaan en verwaarloos raak. Die personeel probeer hulle bes met wat hulle het. Die restaurant is glo al sedert 2004 toe, die tafels en stoele staan binne opgestapel. Die uitsig is egter pragtig. Iets soos Olifantskamp, met minder water. Oral in die kamp le olifantmis. In die nag kom die olifante, ratels, hyena en soms ook leeus in loer.
Die personeel bring vir ons ‘n kruiwa vol brandhout en gou-gou is ons vuurtjie aan die gang. Die son was skaars onder toe die leeu begin brul, klink vir my sommer na net hier onder ons. Pieter wou nog se ons kan maar binne eet, toe is alles al lankal binne – hier is nie meer drade in sig nie, alles is oop. Vir ‘n lang tyd het hy so elke 15 minute van hom laat hoor. Dit was omtrent ‘n stryd om Pieter binne te kry en die girls binne te hou. Hulle wou net so graag kyk hoe lyk die leeu. Ek kan myself net die krisus voortstel as ‘n leeu of hyena Pieter aanval en hier sit ons in die bosse, die enigste mense by die kamp, nou wat dan. Dis goed ons het ‘n satelietfoon, maar wie de hel bel jy dan?
Ek het dit nie voorheen gese nie, maar hier is ook nie kragpunte nie, maw ook nie aircon nie. Die week se hittegolf is nogsteeds aan en dit was vanoggend 10:15 al 35 grade, dis seker iewers in die 40’s nou. Ons het vir ‘n rukkie in die middag die generator laat loop, maar dit voel nogal verkeerd om ‘n geraas in ‘n wildtuin te maak, al is ons die enigste gaste. Ons het maar op ons tande gebyt en die hitte in die nag getrotseer. Die water in die camper se tenks was so warm dat ons ‘n baie aangename louwarm stort gehad het net met die koue kraan.

No comments:

Post a Comment