Monday, October 11, 2010

Dag 40 & 41, Utengule Coffee Lodge and Farm, Mbeya, Tanzania





Ons staan weer op die helipad. Dis baie warm, Oktober is glo die warmste maand hier en die swembad word goed deur ons almal benut, so ook die restaurant. Die kinders noem enige restaurant die Spur en hulle wil net altyd by die Spur gaan eet.

Die plaas verbou koffie en ons besluit om plaas toe te stap, ek voel soos Karen Blixen van Out of Africa-faam tussen die koffie plantasies. Ek weet vir ‘n feit haar kinders het nie so gekerm en gekla soos myne nie. (Sy het nie kinders gehad nie). Die oes is alreeds afgehandel, maar dit was nogsteeds interessant om die plaas en plantasies te sien. Daar is skure, droog rakke, masjiene en ‘n kwekery met klein boompies.

Die ryp (rooi) koffiebone word met die hand deur die vrouens gepluk. Volgende word die vlees gedeelte van die vrug verwyder, as ek dan reg onthou word is die volgende stap fermentasie vir 2 of 3 dae om die parchmen t, dis so harde skilletjie om die dop te verwyder. Daarna is dit droograkke toe vir 10 tot 12 dae. Dan word die groen bone Mbeya toe gestuur waar dit ge-hull word, die harde dop om die kerm word nou verwyder, en dan eers word dit gerooster en gemaal. Op die plaas word net arabicca koffiebome geplant, hulle is selfbestuiwend. Volgens die plaasbestuurder wat ek later in die swembad ontmoet het en met vrae gepeper het, kan koffie bome tot 70 jaar oud word, maar op ‘n stadium neem produksie af. Indien die bome nie gesnoei word nie, kan dit so hoog as 5 – 8m word, wat oes onmoontlik sal maak. Die bome word gesnoei tot ‘n gerieflike plukhoogte, sodat jy nie nog met lere moet sukkel nie. Die koffiebome maak ook suiers en waneer produksie afneem, word die hoofstam afgesaag en van die suiers toegelaat om te groei wat dan weer verhoogde produksie tot gevolg het.

In Arusha het ek al opgelet dat daar altyd ander groot bome tussen die koffiebome geplant word. Ja, koffie het skaduwee nodig. Terwyl ons in die plantasies gestap het, het ons 3 bromvoels gesien.

Ons ontmoet ook hier vir Reynie en Leonie met hulle 2 kinders wat net so oud soos Emke en Engela is. Hulle werk en woon in Dar Es Salaam, maar is nou ook op ‘n maandlange toer. Nou het ons ook aan die einde gekom van ons tyd in Tanzania. Kan skaars glo ons was 20 nagte hier.

No comments:

Post a Comment