Sunday, October 17, 2010

Dag 50 Hwange na Bulawayo, Munisipale Karavaanpark






Ons is vanoggend 7 uur al by Sinematella se hek uit en het verrassend baie wild gesien. Sommer gou het daar ‘n kameelperd en 4 koedoes in die pad gestaan. Seker oppad om water te gaan drink. Later het ons nog 4 keer koedoes gesien en vlakvarke, dassies, rooibokke, duiker en vir oulaas weer olifante.
Net buite Hwange dorpie het ons die oorblyfsels van die “strip roads” gesien. Lank gelede toe geld maar skaars was (amper soos nou) het hulle het 2 spore teer gegooi, as-wydte van mekaar. Sodra daar dan ‘n voertuig in die teen oorgestelde rigting aangekom het, het beide bietjie links van die pad afgegaan en die regter wiel op die teer gehou. Sodra hulle verby mekaar is, het albei weer beide wiele op die teer gehad en kon verder ry.
Langs die pad word allerhande goed verkoop, die eerste stalletjies het kremartartsade verkoop. Die sade het glo meer Vit C as lemoene, meer kalsium as melk en heelwat medisinale gebruike. Daar was ook ‘n klompie plekke wat kleipotte verkoop het, ons het besluit om die hoender wat te koop was te los, maar het 2 groot bosse wortels vir USD1 gekoop.
Ons het besluit om deur te ry Bulawayo toe. Ons het goed gery en was vroeg middag by die Munisipale Karavaanpark in die stad. Weereens soos by Hwange probeer die mense hulle bes met wat hulle het. Jonas, die City of Bulawayo Metropolitan Police, met sy mooi ligblou uniform het ons ook kom besoek en later vir Pieter gaan wys waar die ligskakelaars van die ablusies is. Die kinders het vir Jonas prentjies geteken. Die ablusies was baie mooi skoon, al was dit ietwat vervalle. In die laundry was ‘n paar diep wasbakke en ek en Pieter het maar weer die takie van wasgoed was aangepak.
Soos Vic Falls het die Munisipale oord kragpunte gehad en ons het so lekker geslaap na ons vorige na van hitte in Hwange.

No comments:

Post a Comment