Monday, October 11, 2010

Dag 43, Mabuya Camp, Lilongwe

Dit was vandag ‘n lang dag op die pad, omtrent 9 ure, 550km van Chitimba tot in Liliongwe. Met die rit noord het ons al met die “kuspad”, seker eintlik die “meerpad”gery. By Mzuzu split die pad en ons ry die keer deur die binneland.
Malawi meer was lank gelede bekend as die “calender lake”, 365 myl lank en 52 myl wyd. Die binneland is ook mooi, daar is heelwat bosbou bedrywighede. Plantasies, hout langs die pad en stukkende lorries wat hout vervoer. Donderdae blyk om markdag te wees en dis ‘n miernes van bedrywigheid in die klein dorpies.
Dis ongelooflik hoe die natuur werk, oral is bome besig om te bot of nuwe blare uit te stoot terwyl dit nog nie ‘n druppel gereen het nie. Die eerste reëns kom teen die einde van Oktober. Aan die een kant lyk dit amper soos herfs met al die verskillende kleure blare. Een of ander boom se nuwe blaartjies is eers rooi, dan is daar die lemmetjie groen blare ook. Die koraalbome blom ook nog en een of ander tipe blompeer. Foto’s wys nie regtig hoe dit lyk nie.
Ons beplan om more na inkopies deur te ry Mama Rulas toe in Zambia. Dit is binnekort tyd vir die Lake of Stars Musiekfees. Die musiekfees duur 3 dae en die doel is om geld te in te samel , Malawi te bemark as toerisme bestemming en om Malawiese kunstenaars bloot te stel aan internasionale gehore.

No comments:

Post a Comment