Sunday, October 17, 2010

Dag 51 Bulawayo na Kwa Nokeng, Botswana






Vanoggend nadat ons opgestaan het, het ek voorgestel dat ons begin terugry huistoe. Ek neem vir ou laas foto’s van die bougainvillea en jakarandas by die karavaanpark, en die koperplaat van toe die karavaanpark in 1964 ge-open is, en die kraaie wat water drink by die krane en toe is ons op pad Plumtree toe. Ek het nie veel gedink oor die naam Plumtree nie, maar toe die 1ste dorpie Figtree is en die volgende een Marula, was al die “boom”dorpies vir my baie oulik.
Ons het weereens baie vinnige grensposte gehad, ek weet nie wat al die lande veronderstel is om met hulle gedeelte van die Carnet te doen nie, die doeane beampte by Zimbabawe weet ook seker nie, want hy sy gedeelte in die asblik gegooi. Die Botswana grenspos was ook vinnig en verniet, met die inkom slag so 50 dae gelede het ek retoer gekoop en die ander goed is geldig tot 31 Des 2010.
Ons besluit om maar te ry en te kyk hoe ons vorder. Net buitekant Francistown stop ons vir middag-ete, 17:45 stop ons by Kwa Nokeng by Martin’s Drift vir die nag. Dis baie mooi by Kwa Nokeng op die wal van die Limpopo rivier, en die kampeerplek staan vol van die GP nommerplate.

No comments:

Post a Comment