Monday, October 11, 2010

Dag 47, Moorings Campsite, Zambia





Sjoe vandag is dit weer WARM. Ons het baie vroeg reeds die housekeeping afgehandel. Die stort en porta-potty is alles gewas, die matte uitstof en selfs gewas. Pieter het omtrent die sonskyn vandag gebruik om die kinders se kampstoele en al die wasgoed te was. Vir ‘n slag is alles skoon.
Ek het vandag al heerlik met Adele in Melbourne geskype en met Lynette by die kantoor ook. Nou gaan ek vinnig die blog update voordat ek net onder die boom gaan lê.
So 10 uur vanoggend het ek die Malambo Woman’s Group gaan besoek. Dis ‘n werkskeppingprojek hier op die plaas waar die vrouens naalwerkprodukte maak wat hier en ook in Lusaka verkoop word. Daar was allerhande goed soos wasgoedpennetjie-sakke (het een gekoop), sakke, duvets, kussings, tea cosies, koffie plunger cosy (hou die koffie warm – het een gekoop, na al die koffie wat ons in Tanzania gekoop het, gaan ons definitief een nodig hê), ens.
Die kinders lê onder die boom onder hulle nat Kikoy’s (sulke sarongs van Tanzania), dis net te warm om in die camper te slaap en ons is nog op Zambia se deelkrag. Die bietjie word gedeel, maw dis nie sterk genoeg vir ons aircon nie. Gelukkig soos kraggebruik in die aand afneem het ons so teen 9 se kant wel die gebruik van die aircon. Ongelukkig is hier nie ‘n swembad nie, Pieter sal dalk later ‘n groot skottel vir die kinders vol water maak.
Ons beplanning is verder soos volg: Môre ry ons tot op Livingstone en hoop om sommer deur te ry Vic Falls toe in Zimbabwe. Daar wil ons ‘n nag oorslaap en dan afry Hwange toe vir 2 nagte. Nog ‘n nag of wat in Bulawayo voordat ons by plumtree uitgaan en in Botswana aankom. Daarna sal dit seker nog een nag in Botswana wees voordat ons weer in RSA aankom.

No comments:

Post a Comment