Monday, October 4, 2010

Dag 30, Dar Es Salaam na Arusha (Vrydag)



Alles verloop volgens plan en ons vertrek net na 5.15 by Makadi beach. Vir ou laas moet ons oor die ferry. Ek kan nie onthou wat dit die vorige keer met die trok gekos het nie, maar nou vra hulle Ts 30 000, en ons het net Ts 29 000. Nou wat nou, ons vermoed hulle rip ons af, maar laat ons in elk geval deur. Ons is op die ferry, die maan is nog op en ek neem ‘n paar foto’s van die hawe. Ons vorder redelik voorspoedig en dit wil lyk of ons voor die ergste verkeer is. Ons beplan om by Chalize, 100km van Dar af geld te trek en die trok vol diesel te maak.
Die verkeer raak al hoe besiger en Pieter vergeet om te konsentreer op sy spoed, toe ‘n verkeersbeampte met ‘n radar in die hand wys hy moet aftrek. Hy wil ‘n spotfine gee, maar ons het nie shillings nie. Hy vra toe wat het ons, ons se toe net die USD 20 wat Pieter in sy beursie het, ons beplan om op Chalize geld te trek. Hy vat toe die USD 20 sonder om ‘n kaartjie uit te skryf.
Ons is toe weer vort, maar o wee, op Chalize is net een ATM wat geen buitelandse kaarte aanvaar nie. Geen geld = geen diesel. Ons is bietjie bekommerd maar glo ons sal Korogwe (so 200km) verder haal. Hopelik kom ons daar reg met ‘n ATM of as dit nie anders kan nie, ‘n bereau de change waar ons dollars kan ruil. As ons nie een van die twee kry nie, het ons ‘n probleem. Sonder diesel sal ons nie een van die groter dorpe, Moshi (263km verder)en Arusha (80km anderkant Moshi) haal nie.
Ek en Pieter is maar albei bekommerd en kan ons self skop omdat ons uit Dar is sonder vol beursies en ‘n vol tenk diesel. Ons het net nie geweet dit kan dalk ‘n probleem wees om geld te trek nie.
Korogwe is ‘n wonderlike plek, het nie een nie, maar 2 ATM’s en die tweede een gee vir ons genoeg vir ‘n vol tenk diesel. Ons trek toe ook onder ‘n boom in om ons baie lekker fillet steak toast broodjies te eet. Met ‘n baie ligter gemoed is ons verder.
Nou kyk ons, ons oë seer om Kilimanjaro te sien. Uiteindelik sien ons ‘n wolkie op die horizon, toe ons nader is, sien ons dis die spierwit bergpiek van Kilimanjaro met ‘n wolkie bietjie laer. Wow!!!
By Moshi, wat aan die voet van Kilimanjaro is kan ons die berg baie mooi sien. Kilimanjaro is 5895m hoog en die hoogste berg in Afrika en die hoogste alleen staande (free-standing) berg in die wêreld, dit is ook die hoogste berg wat deur nie-bergklimmers (dis nou ek en jy)geklim word.
Die son begin sak en ons voel ons maak goeie vordering en besluit om deur te druk Arusha toe tot by die Snake Park waar ons slaap. Ons het egter nie rekening gehou met spitstyd op ‘n Vrydag-aand in Arusha nie. Ons kom op die ou end 20h30 by Snake Park aan, ons almal is moeg en moet nog eet. Vandag is nasionale braaidag in SA en ons het beplan om ‘n partytjie te hou, koek te bak en lekker te braai. Dit sal maar oorstaan vir more-aand.

No comments:

Post a Comment