Sunday, October 17, 2010

Dag 48, Victoria Falls Restcamp and Lodge, Zimbabwe





Die pad vanaf Moorings na Livingstone is ‘n pragtige nuwe pad. Oral is daar geel afstandsmerkers, soos wat ons in SA ook gehad het. Dis weer warm, 10:30 was dit 33 grade, 11:30 36 grade en 13:30 toe ons die grensposte moet aandurf 40 grade. Die generator en aircon loop al lankal.
Die grensposte het albei eintlik vinnig verloop. Ons het ‘n oom van die vrystaat ontmoet wat sy planne na Zim verander het, toe hy hoor van al die belastings wat jy moet betaal, sou hom glo R1000 kos. Hy het net daar omgedraai en terug gery Zambia toe. Ek is nogsteeds dankbaar dat ons die Carnet en die COMESA 3rde party versekering uitgeneem het.Verder moes ons USD 30 vir Carbon Tax betaal en nog USD 60 vir tolgeld. Visums word by immigrasie kosteloos aan Suid-Afrikaners uitgereik. Pieter het gedink 5 dae sal voldoende wees, en ons kry toe ook net 5 dae, wat seker voldoende sal wees indien ons nerens enige probleme of vertragings het nie.
Ek wil graag ‘n foto van ons trok neem terwyl dit oor die Vic Falls brug ry. Jy kan nie op die brug stop om foto’s te neem nie. Toe ek uitklim om vooruit te loop, is daar ook dadelik ‘n verkoper van armbande by. Hy is die heel pad saam terwyl hy probeer om dit aan my te verkoop en ek probeer net die foto te neem en Pieter probeer so stadig moontlik ry, maar almal jaag hom aan en dit is 40 grade buite.
Ons kamp by Victoria Falls Restcamp and Lodge, koste is USD 10 per volw, Emke USD7 Engela gratis en voertuig USD8 = totaal USD 35. Ek dink dit was oorspronklik die munisipale kampterein lank gelede, maar het onlangs’n facelift gehad en alles is pragtig, netjies en skoon. Daar is ‘n lieflike swembad en dis gerieflik in die dorp geleë. Die kragpunt lewer wonder bo wonder goeie krag en so gou soos nou is die aircon weer aan.
Ek stap dorp toe om inligting by die parkeraad te kry oor Hwange en Pieter en die kinders gaan swem solank. Volgens die parkeraad se dame hoef ons nie te bespreek nie en kan net opdaag. Ons besluit om by Sinamatella te kamp.

No comments:

Post a Comment